Gerhard het agt onderskeidings behaal. Hy het A’s in Afrikaans, Engels, Duits, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskap, inligtingstegnologie en ingenieursgrafika en -ontwerp. Die Hoërskool Menlopark en Laerskool Anton van Wouw kan met reg trots wees op hierdie oud leerder.
Op 18 het hy reeds ʼn indrukwekkende lys prestasies op sy CV. Hy is ʼn uitblinker by verskeie ekspo’s, waaronder die Nasionale Wetenskapekspo, waar hy in 2013 ʼn goue medalje en in 2014 ʼn silwer medalje verower het en die Nasionale Afrikaans-ekspo, waar hy in 2012 ʼn silwer medalje ontvang het en in 2013 as nasionale wenner aangewys is.
Boonop het dié tegnologie-slimkop verlede jaar in die tweede plek geëindig by die internasionale Toradex Challenge vir rekenaarstelsels én was hy van 2012 tot 2016 elke jaar een van die Hoërskool Menlopark se top 10 akademiese presteerders.
Gerhard is ook ʼn landloopatleet, wat probeer tyd maak om te draf en fiets te ry, hoewel sy besige skedule dit nie altyd toelaat nie. Sy pa, Anton, is ʼn rekenmeester en ma, Bernadene, is ʼn dosent. Sy broer, Joubert, is .
Ons het hom gevra wat hy beplan vir die toekoms.
“Kom ons wees eerlik: tegnologie in die vorm van allerhande toestelle vorm deesdae ʼn integrale deel van ons lewens, maar in praktyk is die meeste van hierdie wonders van die mensdom eintlik maar ʼn spul peperduur toestelle vol leemtes,” gesels Gerhard oor sy passie. “Geldgierige wurms kruip uit tegnologiese gate uit en ek wil hulle graag keer.”
Gerhard gaan elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer.
“My grootste tydverdryf is om aan sagteware vir 3D-drukkers te werk,” vertel Gerhard. “Ek is mal oor rekenaarprogrammering en tegnologie in die algemeen.”
Oor wie hom inspireer, word hy baie opgewonde. “Linus Torvalds is my rolmodel, omdat hy sekerlik een van die beste programmeerders ter wêreld is en net omgee oor die gehalte van sy sagteware (wat hoofsaaklik Linux is) en hy voel ʼn veer vir winsgewendheid. Linux is heel moontlik ook van die belangrikste programmatuur in die moderne wêreld indien nie dié belangrikste nie, omdat die meerderheid rekenaarstelsels daarop staatmaak, al het meeste mense heel moontlik nog nooit daarvan gehoor nie.”
Sy lewensfilosofie is as iets jou pla omdat dit nie reg werk nie, moet jy probeer om ʼn beter weergawe daarvan te maak.
My resep vir sukses is om te volhard in die nastreef van jou drome en om nooit op te gee nie.
Geluk en sterkte vorentoe met jou loopbaan Gerhard……