AfriForum vul gaping in taalatlas se inhoud oor Afrikaans

Argieffoto (Foto: DariuszSankowski/ Pixabay)

AfriForum het onlangs inligting oor Afrikaans vir opname in die Wêreldatlas van Tale van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) voorsien.

Dié atlas is ʼn interaktiewe en dinamiese aanlyn hulpmiddel wat die status van tale regoor die wêreld dokumenteer, verduidelik Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake.

Inligting oor elke land en taal wat hierin opgeneem word, is afhanklik van insette van die betrokke land se regeringsaangewese fokusgroep.

Volgens die span wat die atlas bestuur, het alle regerings nog nie op versoeke om fokusgroepe aan te wys, gereageer nie. In die geval van Suid-Afrika, is geen inligting oor die land se bevolking of amptelike tale op die platform beskikbaar nie. Wat Afrikaans betref, is die taal bloot as potensieel kwesbaar geklassifiseer.

“Duidelik is die opstellers van die platform nie geheel en al onkundig oor Afrikaans nie. Die feit dat dit as potensieel kwesbaar beskryf word, wys daarop dat daar wel kennis geneem is van die uitdagings wat ons taal in die gesig staar,” verklaar Alana.

Die platform is in Februarie 2022 bekendgestel met die doel om die wêreld se linguistieke diversiteit en veeltaligheid as ʼn unieke erfenis en skat van die mensdom te bewaar, te laat herleef en te bevorder. Dit bied verder aan navorsers die geleentheid om name van lande of tale as soekterme te gebruik.

Tans sluit dit 8 324 tale in, waarvan ongeveer 7 000 steeds in gebruik is. Die status van hierdie tale word geklassifiseer as veilig (65 tale), potensieel kwesbaar (1 163 tale), bedreig (2 698 tale), beslis bedreig (2 362 tale), ernstig bedreig (462 tale) en kritiek bedreig (383).

AfriForum het voorlopig inligting oor die bevolking en amptelike tale van die land aan die platform gestuur en sal voortgaan om noodsaaklike inligting daaraan te voorsien soos wat dit beskikbaar raak.

“Langs hierdie weg kan AfriForum bydra tot die beskerming en bevordering van Afrikaans in die breër landskap van tale in die wêreld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Goed gedoen, AfriForum! Leer die aan-die-slaap- kaders ‘n les.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.