5 bykomstighede vir elke boekwurm

Die boekbeskermer is op Etsy beskikbaar. (Foto: Etsy.com)

Hoewel boekwurms se kosbaarste besittings die boeke is wat hulle het of lees, is dit ook so dat bykomstighede, veral dié met ʼn boektema, vir sommige lesers net soveel beteken.

Maroela Media het ondersoek ingestel en besluit om ʼn lys van bykomstighede te maak wat boekwurms kan aanskaf om hulle leeservaring op te kikker. Dié lys is ʼn kombinasie van prettige en praktiese gereedskap wat verder wissel tussen noodsaaklikhede en nie-noodsaaklike items.

Hier is vyf bykomstighede waarby elke boekwurm sal baat.

Boekbeskermer

As die omslag van een van jou boeke al ooit in ʼn beursie, handsak of bagasie verniel het, sal jy verstaan waarom boekbeskermers, of in Engels ʼn booksleeve, aanbeveel word.

Vir lesers wat die gewoonte het om boeke saam met hulle te dra waar ook al hulle gaan, is dit dus eintlik ʼn absoluut noodsaaklike item wat help om hardeband- en slapbandboeke te beskerm.

Daar is soveel opsies op Amazon en Etsy om van te kies, wat wissel van kleurvolle ontwerp en omhulsels met pittige slagspreuke, tot meer eenvoudige (en effens meer begrotingsvriendelike) opsies. Sommige boekbeskermers het ook bykomende plek waar bykomstighede soos penne en boekmerke gebêre kan word.

Duimbladhouer

Nog ʼn prettige, en uiters handige geriefie, is ʼn duimbladhouer wat gewoon aan die duim gesit word en so help om die boek oop te hou terwyl jy lees. Daar is ook variasies van die konsep wat nie om die duim pas nie, maar bloot net onder die vinger ingeskuif kan word.

Boekmerk

Elke boekwurm het een of ander tyd ʼn merker nodig wat aandui waar in die boek jy weer moet begin lees. Hoewel dit deesdae moeiliker is om ʼn verskeidenheid papierboekmerke op te spoor, is dit darem steeds relatief maklik bekombaar. Ander opsies wat in hierdie stadium gewild is, is magnetiese boekmerke en merkers wat om die punt van ʼn boek vou, soos dié wat op Amazon beskikbaar is.

Die boekliggie is op Takealot beskikbaar. (Foto: Takealot.com)

Leesliggie

Boekwurms wat ook naguile is, en met beurtkrag wat Suid-Afrikaanse lesers dikwels noop om by kerslig te lees, kan almal by ʼn leesliggie baat. As jy alleen is en nie nodig het om te bekommer dat die lig iemand naby aan jou gaan steur wat probeer slaap nie, is daar verskeie soorte wat aan ʼn boek vasknip.

Dan is daar handige toestelle, soos hierdie een op Amazon, wat bo-oor die blad van jou boek skuif en dit verlig.

Boekstut

Die laaste aanbeveling is nie noodsaaklik of noodwendig begrotingsvriendelik nie, maar dit sal beslis die leeshandeling aansienlik vergemaklik. Soms lees ʼn mens tussen afsprake, terwyl jy by ʼn restaurant wag of wanneer jy reis, maar as jy langer tyd het om te lees en gemaklik op die bank of bed sit, dan kan ʼn stut handig wees.

Daar is talle unieke opsies, soos boekkussings, wat ʼn groot aanwins vir boekwurms se bykomstighede is.

Bronne: Book Riot, The Literary Lifestyle, Never enough novels

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.