Amore Bekker sê ‘werkloosheidsyfer onder beskermengele hoog’

“Het jy al ʼn engel gesien?”

Dis ʼn vraag wat soveel reaksies uitgelok het dat Amore Bekker, voormalige RSG-aanbieder ʼn boek met die titel, Ek het ʼn engel gesien, saamgestel het.

Die boek maak soveel opslae dat sy en Mari Borstlap, een van die mense wie se verhaal daarin opgeteken is, deur die gewilde TV-aanbieder Hannes van Wyk van Kwêla genooi is om met hom te gesels.

Hoe op aarde het Amore op die gedagte van die boek gekom?

“Ek het die boek uit lesers se vertellings saamgestel. Ek het ʼn maand voordat ek by RSG weg is, op die gedagte gekom toe iemand vir my ʼn video gestuur het van ʼn man wat besig was om Berg Kenia uit te klim. Hy klim hom toe vas op die berg. Hy was nagenoeg ʼn duisend voet bo seespieël. Hy kon nie op nie en hy kon nie af nie.

“Sy woorde was toe: ‘Ag Here help my! Ek wil tog nie so doodgaan nie’. En die volgende oomblik verskyn daar ʼn man. Hy praat nie met hom nie maar hy help hom om uit die penarie uit te kom. Die klimmer besef toe na die tyd dat dit ʼn engel was, want daar was niemand anders op die berg nie.

“Dit het my geïnspireer om vir die luisteraars te vra of hulle al ʼn ervaring met engele gehad het. Die reaksie was oorweldigend en mense het gevra dat ek die verhale asseblief in ʼn boek vertel.

“Ek is daarna weg by RSG. Ek het eers ʼn bietjie stil hieroor geword en ek het toe vanjaar, oor ʼn tydperk van drie maande, inligting via Facebook gekry en dit hier en daar ʼn bietjie geredigeer. En dis die storie!”

Hoewel sy in engele glo, het sy self nog nie een gesien nie, vertel Amore.

“Ek het al ʼn engel geruik wat saam met my ouma se 4711 Cologne gekom het. Dit hang alles af watter sintuig van jou die beste ontwikkel is. Jy kry ook mense wie se gehoor baie sensitief is. Hulle kom by ʼn verkeerslig wat groen is en hoor dan hoe iemand vir hulle skree om te stop, en woeps, dan kom hier ʼn vragmotor verby.

“Dan kry jy diegene wat baie meer tasbaar sensitief is soos die vrou wat vertel dat sy in haar hospitaalbed lê en sy voel hoe iemand met haar hare speel. Dit terwyl niemand tussen haar en die muur kan inpas nie.

“Ander engele besoek jou in krisistye wanneer jy dan onbeskryflike vrede, vreugde en liefde ervaar. Ek het nie daardie talent van heldersiendheid nie, maar vir nou is daardie geur van my ouma genoeg.”

Hoe het sy besluit watter stories om te gebruik? “Ek het ʼn kers opgesteek en gekyk hoe die stories met my hart resoneer. Hoe die stories my laat voel het.”

ʼn Mens wonder watter storie het haar die meeste aangegryp.

Sy sê: “Die storie van die vrou wat in die waakeenheid lê en ongelooflik siek was. Die dokters kon haar nie diagnoseer nie. Sy was so swak dat sy nie eers kon praat nie. Die volgende oomblik raak sy bewus van ʼn wese by haar. Sy dink toe dit moet seker ʼn engel wees. Die man is oor die ses voet lank en hy staan met ʼn swaard. Sy was glad nie bang nie.

“Die man het langs haar gesit en toe maak sy weer haar oë toe. Die volgende oggend kom ʼn vreemde vrou by die waakeenheid ingestap en sy kom na hierdie vrou se bed toe.

“Sy sê die vrou vertel haar dat sy haar nie ken nie, maar is sy daarvan bewus dat sy kritiek siek is? En die besoeker vra haar of sy weet dat daar ʼn gevegsengel langs haar staan.

“Wat vir my wonderlik is, is dat die ander vrou ook die engel gesien het. Maar sy deel haar mee dat dit nog nie haar tyd is nie, en sy vra haar of sy asseblief vir haar mag bid.

“Sy knik toe. Die vrou bid vir haar en toe sy haar oë oopmaak, is die gevegsengel weg. Hy het dalk wag gehou. Die volgende oggend was die pasiënt regop en kon huis toe gaan.”

RSG se Amore Bekker. (Foto: Verskaf)

Amore vertel dat daar ʼn verskeidenheid van engele in die boek is en dat hulle in verskillende gedaantes voorkom.

“Hulle verskyn aan jou soos wat dit jou pas. Lorna Byrne is ʼn skrywer van Ierland wat engele gesien het voordat sy mense gesien het. Sy sê engele is eintlik geslagloos maar hulle ontmoet jou waar jy jouself bevind.

“As jy in ʼn kritieke situasie is en jy wil ʼn sterk man by jou hê, dan sal die engel ʼn man wees. In ʼn sagte oomblik van teerheid sal dit weer ʼn vroulike engel wees.”

Nie een van die luisteraars het geglo dat ʼn spook of gees hulle besoek nie.

“As ons na die hiërargie van wesens kyk, is ons hoër as engele. Ons is die kroon van God se skepping. Onthou, ons het vrye keuse. Hulle het nie. Hulle is ʼn heel ander vorm maar hulle kan in menslike vorms voorkom.

“Daar is ʼn vrou in dié boek wat enkellopend was met twee kinders. Sy het raadop in die Knysna-bos gaan sit nadat sy in ʼn oomblik van wanhoop daar in gestap het.

“Sy het nie geweet hoe om by die huis te kom nie. Die volgende oomblik verskyn daar ʼn hond en hy neem haar hand saggies in sy bek en lei haar en loop met haar tot by haar huis. Toe verdwyn hy. Sy wou nog vir hom melk of water gee, maar hy was weg.”

Volgens Amore is niemand bly dat die doodsengel hulle kom haal het nie.

“Mense wil soms weet hoekom die bure se kind leef en hul kind in die ongeluk gesterf het. Maar onthou, engele het geen keuse nie. Dan was dit die kind se tyd. Engele weet nie eers wanneer iemand dood gaan nie. Hulle weet net wanneer hulle moet ingryp want hier is nou iets verskriklik.”

Amore vertel dat die bymekaarsit van die stories vir die boek haar lewe verryk het.

“In die Bybel word engele meer as 250 keer genoem. Mense wil weet hoekom hulle nie maar net vir God kan vra nie. Ek wil byvoorbeeld nie vir God vra as ek my sleutels soek nie. Jy kan maar sê die engele is “God hands on”.

“Die feit dat ek vir drie maande aaneen met kerse gesit het en die stories gelees het, het my net weer laat besef hoe belangrik dit is om my met positiewe dinge te omring.”

Aan Hannes het sy vertel dat beskermengele nie genoeg ingespan word nie.

“Vra hulle net, toe, vat die kans. Hulle is daar om die lewe vir jou makliker te maak.”

Dit blyk dat die “werkloosheidsyfer” onder engele hemelhoog is.

Dis klaarblyklik nie aan luiheid te wyte nie.

Span hulle in. Hulle wil graag help!

  • Die boek kan bestel, word deur die woord: “engele” te SMS na 48423. Naledi sal dit teen R240 by hul voordeur aflaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.