Anchien Troskie laat vrouestemme helder opklink

In die hart van Anchien Troskie se aangrypende roman, Die laaste kanariegeel notaboek, is sterk vrouekarakters wat dikwels onsigbaar in die skadu’s van die samelewing bly.

“Ek dink dit is belangrik dat vroue ʼn stem het, en dat hulle besef dit is nooit te laat om te praat of vir hulp aan te klop nie,” sê Anchien in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Hoewel Mia Steyn se storie in Die laaste kanariegeel notaboek op die voorgrond staan, maak lesers verder kennis met Mia se tweeling, Anabel en Isabel Louw, Alberta Cronje, oftewel Ant Berta, en Maysie van Geet.

Patience, wat in Mia-hulle se huis op die plaas Blesbokfontein gewerk het, en Remy, wat deel van Louis Feldtsmann se huishouding is, is ook stewig in hulle ondersteuningsrolle geanker.

Anchien gebruik hierdie veelvuldige stemme nie net om die universele uitdagings wat vroue ervaar, te verken nie, maar ook om temas soos emosionele groei, innerlike krag, en selfontdekking te ondersoek.

Die verhaal begin by Anabel en Isabel wat twee jaar ná hulle ma se dood eindelik kans sien om haar huis in Jeffreysbaai te gaan oppak. In Mia se studeerkamer kom die tweeling op ʼn kanariegeel notaboek af wat ʼn outobiografiese vertelling van haar lewe is.

Mia het pas matriek voltooi toe haar broer haar een middag teen haar wil by ʼn losieshuis in Bloemfontein gaan aflaai sodat sy haar eie potjie kan krap. Albei hulle ouers is dood, en op die plaas is daar nie meer vir haar plek nie. Mia se broer en sy vrou gaan die boerdery op Blesbokfontein oorneem.

Oor haar werk as tikster by ʼn prokureursfirma het Mia ook geen sê gehad nie, maar toe sy by ʼn stowwerige, propvol boekwinkel instap het Mia dadelik geweet dit is waar sy wil werk. Die Van Geets het haar as boekwinkelassistent aangestel en kort voor lank het sy haar voete gevind, én haar hart op die beroemde skrywer Louis Feldtsmann verloor.

Mia se verhaal word teen die agtergrond van die sestigerjare geskets. Anchien sê sy het juis hierdie milieu gekies, omdat dit ʼn interessante tyd was waarin vroue geleef het.

Anchien Troskie (Foto: Rieghard van Rensburg)

“In hierdie tyd het vroue begin om vir hulleself op te staan. Voorheen was hulle monde eintlik maar grootliks gesnoer. Soveel te meer vir huiswerkers soos Puleng en Remy wat deel van huishoudings was, maar ook nie ʼn stem gehad of hulp kon gaan soek het nie.”

Wat hier ontvou, is ook ʼn verhaal wat die geheime tussen ʼn ma en haar dogters, en huweliksmaats, asook die tekens van trauma wat ʼn persoon met hom saamdra, blootlê.

“Mia was seker eintlik nog altyd vir my die hoofstem in die verhaal, maar die tweeling se stemme is net so belangrik. In hulle sien ons die uitwerking van daardie trauma wat hulle as kinders beleef het en nou in hulle sestigs saam met hulle dra,” brei Anchien uit.

Die ontdekking van hulle ma se lewensverhaal bring dan juis die sleutel tot genesing vir hierdie trauma wat Anabel en Isabel al die jare met hulle saamgedra het.

Wanneer die tweeling terugkeer nadat hulle hul ma se huis opgepak het, is dit nie net kleintydherinneringe wat hulle saamdra nie, maar ook die storie van hulle ma wat ondanks talle uitdagings moed gehou het en opgestaan het vir haarself.

  • Die laaste kanariegeel notaboek kos R320 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.