Boek: ‘Die towenaars van toeka: Nooit en vir ewig’

Cressida Cowell 

Xar en Wens het die bestanddele vir die doepa om van hekse ontslae te raak gekry. Nou roep die towerkoning hulle na die Meer van die Verlorenes. Maar hulle moet die doepa eers in die beker van tweede kanse aanmaak.

Xar is ʼn towenaarseun wat deur ʼn gevaarlike heksevlek beheer word. Wens is ʼn krygermeisie met sterk towerkrag.

Kan hulle die honger Draakwurmmonster verslaan en met die beker ontsnap? En sal die doepa se towerspreuk sterk genoeg wees om die vloek van die woeste woud te verbreek… of sal die hekse vir ewig regeer?

Die towenaars van toeka: Nooit en vir ewig is die Afrikaanse vertaling van The Wizards of Once: Never and Forever wat deur Cressida Cowell geskryf is. Dit is deur Kobus Geldenhuys vertaal en die Afrikaanse weergawe het pas by Protea Boekhuis verskyn.

Nooit en vir ewig is die vierde boek in die reeks en dit volg op Die towenaars van toeka: Boek 1, Twee teen twee en Klop drie keer.

Oor die skrywer

Cowell is die skrywer en illustreerder van die blitsverkoperreeks How to Train your Dragon (oftewel Hoe om jou draak te tem), wat nou ʼn bekroonde Dream Works-rolprentreeks is, asook ʼn televisiereeks wat op Netflix en CBBC vertoon word.

Die Towenaars van Toeka is ook ʼn topverkoperreeks en dit is deur die landskap in die omgewing van Sussex geïnspireer, waar Cowell se ouma grootgeword het. Cowell woon in Londen saam met haar man, drie kinders en ʼn hond genaamd Pigeon.

Oor die vertaler

Geldenhuys is bekend vir sy kinderboek­vertalings van outeurs soos JK Rowling en Roald Dahl. In 2015 het hy die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat, en in 2018 vir MG Leonard se Kewerknaap. In 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het. Hy het by geleentheid ook Artes- en Safta-toekennings ontvang, en is verskeie kere benoem vir sy gesinchroniseerde vertalings van TV-reekse en animasieflieks vir die destydse SAUK-oorklankingsafdeling. Wanneer hy nie vertaal nie, skryf hy televisietekste vir Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater, Binnelanders en Suidooster.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R295,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Protea Boekhuis  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.