Boek: ‘Jy handle dit net’ – Eleanor Lombard

Eleanor Lombard

Drikus voel soos God se afskeepkind. Hy kan nie rugby speel nie. Hy het nie veel maats nie. Hy verloor die skaaktoernooi. En dan is hy in ʼn fietsongeluk en daar is nie geld om die fiets reg te maak nie. Wat nou? Hy besluit om worsbroodjies te begin verkoop om geld te maak, en toe ontmoet hy vir Donovan, ʼn straatkind met ʼn eiesoortige uitkyk op die lewe. So begin ʼn ongewone vriendskap wat al twee seuns se lewens onherroeplik verander. ʼn Deernisvolle verhaal met Christelike waardes (sonder om prekerig te wees). Donovan se Kaapse dialoog verleen ʼn ander dimensie aan die storie.

Met Jy handle dit net maak Eleanor Lombard haar debuut as skrywer. Die boek is deur Luca, ʼn druknaam van Lapa Uitgewers, uitgegee.

Oor die skrywer

Lombard is in 1950 in Kaapstad gebore. Op skool by Hoërskool Kempton Park het sy in drama uitgeblink en in haar matriekjaar het sy ʼn ATKV-jeugtoneeloorkonde ontvang as beste toneelspeler in Transvaal.

Sy het ʼn BA-graad aan die Universiteit van Pretoria, ʼn onderwysdiploma (met lof) in Potchefstroom en ʼn honneursgraad in geskiedenis aan Unisa behaal. Tydens haar onderwysloopbaan was sy ʼn lektor in Afrikaans aan die Bellville Opleidingskollege.

Lombard en haar man, Pieter, is lief vir reis en sy publiseer gereeld reisartikels. Sy het ook verskeie radiodramas geskryf en was ʼn finalis in die RSG/Sanlam radiodrama-skryfkompetisie. Die Lombards woon tans in Tergniet naby Mosselbaai.

Prys: R150,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.