Boek: Rondomtalie: Die beste rympies en liedjies van Jaco Jacobs

Jaco Jacobs

Wat kry jy wanneer drie van die land se talentvolste kunstenaars kragte saamspan om ’n kleuterboek en CD die lig laat sien? Hope pret, natuurlik!

In Rondomtalie verskyn ’n prettige keur uit die gewilde en bekroonde kinderrympie-koning Jaco Jacobs se kleuterversies. Die boek is pragtig deur die talentvolle kunstenaar Karen Ahlschläger geïllustreer. Om als te kroon, bevat die boek ook ’n CD waarop die veelbekroonde toonsetter en sangeres Anna Davel haar fantastiese toonsettings van al 30 versies sing!

Kom ry saam op die Teddiebeerbus, ontmoet vir Bambino die reus van Bitterbos, galop op die rug van ’n wilde perd, soek goggas in die tuin of hou ’n kussinggeveg!

Die boek bevat altesaam 30 rympies en 30 liedjies.

Hierdie pragpublikasie beloof ure se vermaak vir kleuters – en is ’n trotse toevoeging tot enige kleuter se boekrak en musiekversameling!

Oor die outeur

Jaco Jacobs is die skrywer van meer as 140 boeke vir tieners, kinders en kleuters. Meer as ’n miljoen kopieë van sy boeke is reeds verkoop en hy spog met talle bekronings, waaronder die Alba Bouwerprys, die CP Hoogenhoutmedalje, die Exclusive Books/IBBY-prys, die Tienie Hollowaymedalje en 24 ATKV-Kinderboektoekennings. Jaco woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, sy dogtertjies, Mia en Emma, drie honde, ’n kat en ’n troetel-luislang. Die luislang gee lekker drukkies, maar kan nie sssssssso goed rympies opssssssssssê nie.

Oor die illustreerder

Karen Ahlschläger is in Oos-Londen gebore en het ’n Nasionale Hoër Diploma in Grafiese Ontwerp behaal. Daarna het sy olieverfskilder aan die Michael Pettit-kunsskool in Kaapstad gestudeer. Sy het haar loopbaan as grafiese ontwerper, boekontwerper en rekenaargrafikadosent afgeskop, en het reeds kommersiële werk vir verskeie maatskappye asook plaaslike en internasionale uitgewerye gedoen. Sy was ook die illustreerder van Jaco Jacobs se Die Teddiebeerbus en ander rympies en Holderstebolder: Rympies vir rakkers.

Oor die sanger

Anna Davel bekoor gehore reeds twee dekades lank met ’n kombinasie van haar rokerige stem, sielvolle optredes en pragtige oorspronklike komposisies. Haar musiekloopbaan het in 1997 afgeskop toe sy die ATKV Crescendo-kompetisie met ’n oorspronklike komposisie gewen het. Nadat sy haar Diploma in Ligte Musiek/Jazz in 1998 aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie voltooi het, het sy die wêreld saam met die a cappella-groep Cutt Glass platgetoer. Haar sololoopbaan het in 2003 afgeskop, en sy het nege hoog aangeskrewe albums en ’n magdom oorspronklike liedjies die lig laat sien. In 2006 is haar solodebuut met die gesogte SAMA vir beste Afrikaanse volwasse kontemporêre album bekroon, en sy was ook as aktrise in rolprente soos Susannah van Biljon en Suurlemoen! te sien.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R200,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.