Boek-uittreksel: Die vlerke van naaldekokers

Hier volg hoofstuk 11 van die boek Die vlerke van naaldekokers deur Cecilia Steyn.

“Draai hier af,” sê Oupa. “Hier kan ons een van Lieke se wense afmerk.”

Ons is eintlik op pad Graaff-Reinet toe, waar ons vanaand slaap. Dis waar Oupa van sy kinderjare deurgebring het. Hy wil dit glo nog een keer sien voor hy doodgaan. Oumense kan so dramaties wees! Ek voel hoe my frons soos ’n krater groei. Al wat ek sien, is graspolle, klippe en karoobossies.

“Watter wens sal ons nogal hier tussen die gras en klippe kan afmerk?” vra ek. My lyf is seer en ek wil graag nou stort en iewers op ’n sagte, snoesige bed neersak.

“Jy sal sien,” sê Oupa.

Die Cadillac kerm in verset toe die pad skielik drasties begin klim. In die veld kou springbokke en gemsbokke rustig aan graspolle. Koppies staan soos Basotho-hoedens in die see van groen vlaktes.

“Kyk, daar is die Nqwebadam,” sê Oupa. Om ’n dam te sien is nie op Lieke se lysie nie, wil ek Oupa herinner.

Uiteindelik stop Lee in ’n parkeerarea. Daar staan net een ander kar.

Op ’n groot wit en groen inligtingsbord staan: Valley of Desolation/Vallei van Verlatenheid.

Dit laat my regop sit. Dink Oupa die plek kan die Grand Canyon op Lieke se lysie vervang? Ek hoop so.

Ek strek toe ons uitklim.

As die plek Oupa se plaasvervanger vir die Grand Canyon is, kan ek mos nie net vir Lieke hier in die kar laat lê nie. Ek druk die blik, wat ek netnou weer op die sitplek gesit het, in my rugsak en haak die sak versigtig oor my regterskouer.

Bordjies dui aan waar verskillende uitkykpunte is. In die parkeerarea is die grafstilte merkbaar. Asof dit heilige grond is waarop ons loop. Ek en Lee staan vir ’n oomblik by die inligtingsbord. Oupa stap reeds op met een van die voetpaadjies wat deur groenigheid kronkel.

Toe slaan ek en Lee ook elkeen ons eie rigting in. Aan die einde van my voetpad verstaan ek wat Oupa bedoel het.

Versigtig klim ek op ’n groot, plat rots om die onmeetbare mooiheid te probeer inneem, maar die enormiteit waarna ek staar oorweldig my sintuie. Voor my verrys dolerietgestaltes soos brons geamputeerde ledemate honderde meters die lug in, asof hulle soos akrobate al vir duisende jare so balanseer en enige oomblik kan kantel. Agter hulle strek die oneindige groen see van die Kamdeboo-vlaktes. ’n Mens kan selfs die hele Graaff-Reinet van hier af sien.

Van foto’s wat ek al van die Grand Canyon gesien het, kom hierdie nie naby daaraan nie, maar dis die beste wat ons vir Lieke kan doen.

Op die rots gaan sit ek met my bene gekruis. Ek kan sien hoekom Oupa hierheen wou kom. Hier kan ’n mens maklik van alles vergeet en net staar en staar tot dit wat verkeerd was nie meer saak maak nie.

My ore suig die stilte op soos ’n spons. Hier is nie eens voëls wat kwetter nie.

Wolke maak die hitte van die dag skielik draagliker. Net hier waar ek sit, val ’n perfekte goue sonstraal op my soos ʼn kollig.

Ek vat my selfoon en neem ’n foto van die vallei. Dalk sit ek ’n afdruk in Lieke se memory box as ek by die huis kom.

Sou Lieke wou hê ek moet hier van haar as strooi?

Ek haal die blik uit my rugsak. Hou dit vir ’n oomblik net vas.

“Gaan jy… ” Lee verskyn langs my, maar hy maak nie sy sin klaar nie.

Ek knik en klim eers van die rots af waar ek die hele situasie kan bekyk… benader. Ek kan die maniere hoe ek hierdie belangrike oomblik kan opmors op my een hand tel.

Netnou gly die blik uit my hand en tuimel die as oor die afgrond. Of kom die wind op en is al Lieke se as net weg.

Nee, hier sal ek net ’n klein gedeelte strooi. Dalk op ’n ander plek van die res.

Ek haat wat ek volgende doen.

“Sal jy my help, asseblief?” vra ek vir Lee. Ek kyk hom eerder nie in die oë nie. As hy my nie wil help nie, wil ek dit nie op sy gesig sien nie.

“Sure,” sê hy. “Ek sal.”

“Miskien kan jy die blik vat, dan skud jy net so ’n klein hopie in my palm,” sê ek. “Asseblief… ” Ek hou my regterhand bak en probeer om nie te veel te bewe nie.

Niks mag nou verkeerd loop nie.

Lee vat die blik versigtig by my asof hy ’n duur vaas vashou. Hy gooi ’n klein piramide in my hand uit, maak dan die blik stewig toe en bêre dit in my rugsak wat ’n entjie van die rots af lê.

Toe Ma en Pa vir my gesê het hulle gaan haar veras en nie begrawe nie, was ek eers kwaad. Nou is ek bly sy lê nie iewers onder die grond sodat wurms op haar kan feesmaal nie.

Die as voel grof teen my vel. Korrelrig soos seesand. Ek het gedink dit sal sysag soos gewone as voel.

My bene voel skielik lam. Tydsaam kom ek regop op die rots.

Hier waai gelukkig nie ’n wind nie.

Maar toe ek die as moet gooi, wil ek nie my vuis oopmaak nie.

Wat as sy haat wat ek aan haar doen? Nes sy seker alles gehaat het wat ek voor haar dood aan haar gedoen het.

“En nou?” vra Lee.

“Ek… ek dink nie ek kan nie,” sê ek en klim van die rots af. Daar is ’n knop in my keel toe ek aan Lee se woorde van vroeër dink. Gee jy altyd so maklik op? “Wat as sy nie hier wou wees nie?” vra ek. Wat ek nie sê nie, is dat ek haar nie wil laat

los nie. Vir ’n oomblik verstaan ek hoe Ma en Pa moet voel.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

Oor die boek

Die ongeluk het Kylie se lewe uitmekaargeruk. Nie net het sy haar linkerhand verloor nie, maar haar jonger sussie, Lieke, is vir altyd weg. Boonop is sy die een wat al vir maande lank haar ma se geheim moet ronddra. ’n Onbeplande road trip saam met haar eksentrieke skrywer-oupa en sy aantreklike jong assistent, Lee, bied vir Kylie die perfekte kans om te ontsnap. En miskien is dit haar geleentheid om iets vir Lieke te doen; om ’n paar goed op haar sussie se bucket list af te merk: photobomb iemand famous, leer om te surf, maak ’n verskil, plant ’n boom, soen ’n mooi ou… Dit word ’n vakansie wat Kylie nooit sal vergeet nie. ’n Reis terug na haarself, na heelword. Maar ook ’n reis deur alles wat hierdie deurmekaar lewe op ’n mens se pad bring: hartseer, verlies, skoonheid, liefde…

Oor die skrywer

Cecilia Steyn is die trotse ma van twee pragtige seuns en woon in Orkney, Noordwes. Sy is op 9 September 1974 in Welkom in die Vrystaat gebore en is die jongste van drie kinders. Na skool het sy haar loopbaan afgeskop in die kleinhandel apteekbedryf. Steyn skryf sedert 2017 voltyds. Sy het reeds verskeie gewilde jeugboeke die lig laat sien, wat onder meer die Tienerharte- en PresiesAnders-reeks, waarvoor sy elk ’n ATKV-Woordveertjie gewen het, insluit.

Genre: Jeugfiksie
Ouderdom: 14 en ouer
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R185,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek en e-boek nou by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.