Boek van die maand: ‘Zola’ deur Johan Jack Smith

Die Engelse skrywer Will Self het verlede jaar heelwat aandag op hom gevestig met sy uitspraak in ʼn koerantonderhoud dat die roman gedoem is tot die kulturele kantlyn, saam met tradisionele skilderkuns en die klassieke simfonie. Lank voor Self het VS Naipaul al gesê fiksie is dood, volgens hom juis omdat fiksie nie opgewasse is teen die behoefte wat mense het vir feite nie.

Syfers wat pas deur die Britse uitgewersvereniging bekendgemaak is, dui daarop dat romanverkope in dié land verlede jaar met iets soos 7% afgeneem het. Van die redes wat aangegee word, is dat fiksie, van alle boeke wat geproduseer word, die meeste aanspraak maak op mense se vrye tyd. Saam met Netflix en rekenaarspeletjies en sosiale media.

Wat wel intussen besig is om te gebeur is dat fiksie tot stand kom wat benewens goedgeskryfde verhale ook wyer en komplekse sosiale kwessies takel – geskoei op die feitelike.

Johan Jack Smith se debuut, Zola, is ʼn aanduiding van dié soort roman wat meer is as (meesleurende) misdaadfiksie: Dit is ook ʼn verhaal van Johannesburg, kompleet met feitelike geografiese, maatskaplike en historiese bagasie. Maar eintlik blyk dit Zola is ʼn verhaal van twee (of meer) stede: want Johannesburg se middestad is anders as Alexandra; sy lowerryke Parks is soveel anders as Melville of Soweto. In al dié getekende gedaantes word dié stad die agtergrond vir die misdaad, maar eweso misdadige medepligtige. Al is dit net om die moordenaar met sy rooi taxi skuiling te bied.

In die grys reënweer word die stad des te geheimsinniger en byt “die monster wat hier bly, … sonder ophou, sonder kans vir asemskep vir dié wat hom in toom probeer hou” (50).

Op ʼn eerste vlak is Zola ʼn misdaadroman. Iemand is besig om jong meisies wreed af te maai en die bloedspoor wat hy/sy agterlaat dui in die rigting van ʼn reeksmoordenaar aan die werk. Die leser kom twee polisiemanne, kaptein David Majola en adjudant Jason Basson, teë wat die monster moet tem. Nie een van die twee is self sonder monsters nie, wat daartoe bydra dat ʼn mens dié twee karakters van meet af as geloofwaardig ag.

Smith bewys hom met dié debuut (hy het reeds as digter in Nuwe stemme 6 gepubliseer) as metodiese skrywer met ʼn oog vir detail, ʼn vermoë om ʼn hele klomp balle vernuftig in die lug te hou en les bes geloofwaardige karakters te verbeeld. Hy doen moeite om onder die vel in te kom van sy karakters en die omgewings waar hulle woon/vandaan kom. Soos wat hy moeite doen om byvoorbeeld die “rotplaas” (41), Alexandra, te verken. Nietemin bly Alexandra nog “die ander” stad. Ek meen dit was Borges wat oor A Tale of Two Cities opgemerk het: “Dickens lived in London. In his book A Tale of Two Cities, based on the French Revolution, we see that he really could not write a tale of two cities. He was a resident of just one city: London.”

Smith skryf met die oog van ʼn regisseur: Hy wissel panoramiese skote af met nabyskote, hy talm om reuke te peil – van Old Spice tot hondepie – en met die ruim verwysing na rolprente plaas hy sy eie skryfwerk in ʼn groter filmiese konteks.

Zola is benewens “ʼn boeiende piknagdonker speurverhaal”, so beskryf op die agterblad, ook ʼn peiling van die eietydse stedelike samelewing – met heelwat meer feite as wat ʼn mens van misdaadfiksie sou verwag. Dit is die soort fiksie wat ʼn mens nie net laat ril wanneer jy ʼn rooi taxi in die verkeer sien nie, maar ook laat nadink oor die Goudstad (ook genoem die “Moordstad”) se geografiese, maatskaplike en historiese bagasie.

Die leeservaring is nié moeisaam of moeilik nie, anders as wat elders opgemerk is. Selfs met al die soms oordadige storielyne ís die boek meesleurend.

Zola, deur Johan Jack Smith, word uitgegee deur Penguin. Die boek kos R265.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae