Boek: ‘Vuurvreter’ – Joha van Dyk

Joha van Dyk 

“Dis alles Bloedskuld, Malherbe. Dis die kruks, is dit nie?” sug Charlie en tuur uit oor die water. “Jy gee hulle net soveel as wat jy wil.”

“Dis skuld.” Sy stem wankel. “Jy moet betaal tot jy klaar is… Jy kan nie terughou nie. Dis nie hoe dit werk nie.”

“Wat as dit kon?” vra sy, met daardie amper-glimlag. “Niks meer as wat jy wil nie. As hulle dink hulle kan meer uit jou kry… is jy ʼn goner.”

“Charlie?” fluister hy, maar die wind ruk dit weg. Dit gebeur in ʼn oogwink. Een oomblik is Charlie daar, teruggetrekte skouers, hare in ʼn stralekrans. Die volgende oomblik is sy weg.

Malherbe “Vuur” Albertyn beplan om die somer in Kransbos deur te bring om die magiese Ylwoud te vind. Desperaat op soek na antwoorde, na iets buiten die Bloedskuld wat hy en sy Branderjaer-broers steeds in die arena betaal. Desperaatheid dryf ook vir Mieke om te waag om haar drome na te jaag. Maar dit beteken sy moet Vuur se vertroue wen – die een ou wat haar nie kan verdra nie. En dan is daar Jak, en alles wat ongesê bly tussen hulle… Kan sy ontsnap deur saam met Malherbe in ʼn onvoorspelbare bos te gaan verdwaal? Is Ylwoud die antwoord op Charlie se verdwyning? Vir beide van hulle wag daar ʼn besluit: waag of waarheid… Maar daar is nie altyd ʼn keuse nie.

Vuurvreter is deur Joha van Dyk geskryf, en dit volg op haar debuutroman Branderjaer wat in 2020 verskyn het.

Oor die skrywer

Van Dyk is ʼn 25-jarige nagraadse student aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy het op ʼn plaas in Kleinzee teen die Namakwalandse Weskus grootgeword. Van Dyk het haar BA-graad in 2018 verwerf, sowel as haar TEFL-sertifikaat. Sy het in 2020 haar meestersgraad (cum laude) in Engels verwerf en sy is op die oomblik besig met haar doktorsgraad in Engels, terwyl sy deeltyds tutor. Van haar gedigte is in Penseel en Versindaba opgeneem. Branderjaer was haar debuutroman in 2020.

Uitgewer: NB-Uitgewers
Prys: R220,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boeke by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.