Boekresensie: ‘Bloedlelie’

Bloedlelie deur Jeanette Ferreira word uitgegee deur Lapa Uitgewers

 In 1838 vertrek Piet Retief en sy geselskap van nagenoeg 100 man – waaronder vier kinders – na die Zoeloekoning Dingaan om te onderhandel oor grond vir die trekkers. Die traktaat wat Dingaan moet onderteken is in Retief se bladsak toe hy en sy manne in die kraal voor die koninklike hut op die koning wag om sy verskyning te maak. Sy oë dwaal oor die aanwesiges.

En dan, die paragraaf wat hierdie stukkie geskiedenis vir my as leser oopgebreek en laat lewe het: “Julle sal gesien en nie gehoor word nie, wys hy met die oë vir Klein Piet, Danie, Kosie en Kootje ook. Die bogte verstaan nie wat hier aangaan nie, netnou gaan een van hulle aan die lag. Klein Piet wou juis vanoggend weet of die koning regtig so ’n groot maag het. Agter die kring trekkermans sit die Zoeloekrygers op hulle hurke, tien en twintig diep, in doodse stilte.”

Bogenoemde gedeelte omsluit die rede waarom ek graag historiese romans lees. Geskiedenislesse bestaan meestal net uit droë feite, name en datums. Skrywers soos Jeanette Ferreira plaas die leser egter in die middel van die gebeure van destyds. Nie net loop jy op die spore van Retief en sy manne nie, maar jou hart bly agter by Magdalena, Retief se vrou, wat te Doornkop onrustig op hom en twee van haar seuns se terugkeer wag. Magdalena wie se eerste man, Jan Greijling, saam met nog burgers deur die Xhosas vermoor is toe hulle oor grond onderhandel het. Jy staan ook in die donker onder die wye uitspansel wanneer Retief en eerwaarde Francis Owen die wonder van die firmament aanskou net buite Dingaan se slapende stat.

Bloedlelie speel in die verlede sowel as die hede af. In die teenswoordige tyd is Hanna se man, Adriaan, ’n historikus cum argeoloog en ook spesialisgetuie in grondeissake. Die leser “ervaar gesprekke en hofsake oor grondeise”. Hanna stel ook belang in die geskiedenis en wil graag meer te wete kom oor die grootliks onbesonge Magdalena Retief, maar dié se “spore verdwyn telkens sooos ’n kwartel in kreupelbos”. In die verlede is die Voortrekkers op soek na grond. ’n Groot deel van die verhaal handel oor waar Magdalena in die laer saam met van haar familielede en ander wag dat Piet-hulle van Dingaan af terugkeer met die getekende traktaat.

Die skrywer Helene de Kock het die volgende oor Bloedlelie, wat beskryf word as ’n polities-eerlike roman, te sê: “Verskriklike en weersinwekkende gebeure, sowel as hedendaagse politieke kompleksiteit en strydpunte, word met ’n seker hand uitgebeeld. Nóg ’n bekende skrywer, Elkarien Fourie, skryf die volgende in haar resensie oor Bloedlelie: “Ferreira werk subtiel met die skuldkwas en lê dit nie net aan die deur van die Zoeloes nie; in gewelddadige konfrontasies is niemand se hande sonder bloed nie en niemand spring die gepaardgaande lyding vry nie.”

Bloedlelie is allermins ’n maklike lees – dit verg konsentrasie om by te hou met al die karakters, vertellinge en gebeure oor die tydvakke heen. Interessant en aangrypend is dit wel. Ferreira se kennis oor sterre- en plantkunde en haar fyn waarneming van die natuur en die karakter van die mens as sulks, beïndruk. Haar taalgebruik verdien erkenning – nie net omdat dit so perfek pas in die monde van die karakters sowel as in die tydvakke waarin sy skryf nie, maar omdat dit enige taalliefhebber telkens ’n paragraaf en sin wéér laat lees net oor die mooi daarvan. Dit verg ’n besondere taalkundig bedrewe skrywer om die taal, wat vir eietydse lesers verouderd mag voorkom, só te laat sing. Die wyse waarop Ferreira die magdom navorsing wat sy gedoen het verwerk het tot ’n afgeronde en volwaardige verhaal is ook prysenswaardig.

Ek het geweldig baie daarby gebaat om hierdie besondere boek van 304 bladsye te lees. Dit het my laat wonder oor so baie ander vroue wie se verhale onopgeteken is. Vroue van alle rasse wat mans en kinders aan die dood moes afstaan ter wille van grond en kos en ook as gevolg van ontbering en oorlewing. Hierdie treffende sin op bladsy 234 verwys inderdaad na die stoffasie waarvan die vroue gemaak is waarop die geskiedenis van hierdie land gebou is en steeds gebou word: “… ’n vrou kan waar ’n man nie meer moed het nie.”

Ek beveel hierdie boek heelhartig aan vir lesers wat graag ’n verrykende leeservaring wil hê.

Meer oor die skrywer: Bloedlelie is Jeanette Ferreira se tiende roman. Sy het voorheen ’n digbundel en twee kortverhaalbundels van haar eie gepubliseer en is ook die samesteller van verskeie kortverhaalbundels.

Skaf Bloedlelie hier aan.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.