Boekresensie: Die Greyson-probleem volgens Amalie Verhoef

Deur Louise Viljoen

Ek het vanoggend om ses met ’n stomende haselneut gegeurde drankie wat beloof om ’n drukkie in ’n beker te wees, nesgeskrop op die sitkamerbank met Die Greyson-probleem volgens Amalie Verhoef, oftewel boek een van Anna Emm se Greyson-reeks, in die hand. Twee en ’n half uur later het ek die boek met ’n behaaglike sug toegemaak.

Anna Emm het dit weer gedoen! Sy het my moeiteloos weggevoer met ’n allerheerlike, teer liefdesverhaal wat my vrouehart sommer warm laat klop het en goedvoelhormone deur my hele lyf laat spoel het. Wat ook al vandag gebeur, ek voel gelukkig en tevrede – reg vir die uitdagings op my pad!

Anna Emm sê: “Ek glo in die krag van stories. Ek glo dat ’n goeie storie kan inspireer, motiveer en genees soos geen ander medium op aarde nie.” Met Die Greyson-probleem volgens Amalie Verhoef, het ek presies dít ondervind. Selfs nou, ure nadat ek die storie gelees het, bly die hoofkarakters, Amalie Verhoef en Neil Greyson, my by, en voel ek traag om hulle op die agtergrond te skuif.

Anna Emm beskryf die aanvanklike bewuswording van mekaar en die heerlike aantrekkingskrag tussen Amalie en Neil uit beide karakters se oogpunt uit. Sodoende word die leser deel van die wonder wanneer twee mense, ten spyte en dalk as gevolg van die vonke wat tussen hulle spat, besef dat hulle mekaar liefgekry het en nooit ooit weer sonder mekaar wil wees nie.

Ek het voorheen Anna Emm se eerste vier boeke vir volwassenes, haar Gran Via-reeks, gelees. Dit was toe reeds vir my duidelik dat Anna Emm met elke nuwe boek wat sy aanpak nog as skrywer groei. Elke boek van haar wat ek sover gelees het, is dan ook beter as die vorige een. Dis asof Anna Emm met elke nuwe storie wat uit haar pen vloei, haar kleim as skrywer net nóg groter afsteek. Ek is opgewonde oor haar as liefdesverhaalskrywer en voorspel dat daar ’n blink toekoms op haar wag. Sy is nie bang om as skrywer te waag en selfs te konfronteer nie. Sy skryf in ’n gemaklike trant en haar storielyne is vars en opwindend.

Anna Emm weet wat haar lesers wil hê en sy gee dit vir hulle. Haar boeke is geensins swaar letterkundige werke nie. Sy glo aan ‘skryf soos jy praat’. Taalpuriste sal frons omdat Afrikaans en Engels kleurvol gemeng word maar Anna Emm voel vere – by haar kom die storie eerste. Haar werk is pretensieloos en sonder vertoon. Haar karakters is eg menslik, foute en al. Hulle vloek selfs! Anna Emm gebruik simbole om krutaal uit te druk. Sommige lesers sal voel dis onnodig en dat ’n kragwoord wel toelaatbaar is, terwyl ander weer sal reken dat dit strook met die ‘skoon’ en lesersvriendelike beeld wat Anna Emm voorstaan. Ek sou graag wou sien dat Anna Emm vorentoe belê in die dienste van ’n ervare taalversorger. Dit sal die klein jakkalsies, soos byvoorbeeld die oormatige gebruik van die ellips, uitskakel en sorg vir ’n selfs nóg beter leeservaring.

In Die Greyson-probleem volgens Amalie Verhoef, is Amalie ’n vryskutblogger wat die geleentheid kry om vyf dae saam met drie aantreklike en bekende broers, die uiters suksesvolle en skatryk erfgename van die Greyson-sakeryk, deur te bring sodat sy ’n reeks artikels oor hulle kan skryf vir die Times. Neil, die oudste broer en ook hoof uitvoerende beampte van Greyson Investments, stel dit egter duidelik dat hy nie ’n joernalis naby hom soek nie, en hy laat ook onomwonde hoor:  “… ek gaan haar nie babysit nie. Sy is julle probleem.” Amalie dink weer: “… as hy dink hy gaan my so maklik afskud, het ek nuus vir hom.” Natuurlik is dié twee se hardkoppige geaardhede die resep vir aardskuddende konflik, want albei voel onmiddellik aangetrokke tot die ander. As leser het ek heerlik saam met Amalie verlief geraak op Neil, en ek kon heeltemal verstaan waarom hy teen wil en dank dieselfde oor haar begin voel het.

My gunsteling dele in die boek is waar Anna Emm die karakters se gedagtes weergee. Die dialoog is oortuigend, skerp en geensins vervelig nie, maar die karakters se innerlike gewaarwordinge het my veral geboei. Dit het my in staat gestel om die motivering agter hulle woorde en dade beter te begryp, en om sodoende ook van die begin af deel te hê aan die gevoelens wat tussen Amalie en Neil ontkiem. Soos hier: “En hy ruik hmmm …” “Kry grip, Amalie! Hoe die CEO van Greyson Investments ruik, het absoluut niks met die prys van eiers te doen nie! Jy is hier om ’n storie te skryf, om ’n eerlike, objektiewe artikel oor hierdie mense te skryf Fokus!” Neil dink weer: “Wanneer laas het ’n vrou my so ge-challenge? Of énigiemand, for that matter? Oral waar ek gaan, buig mense voor elke woord wat ek sê. Maar nie Amalie Verhoef nie.”

Ek sien daarna uit om die ander twee boeke in die Greyson-reeks te lees en kan skaars wag dat dit gedruk word. Anna Emm gee in die epiloog ’n voorsmakie van die volgende boek in die reeks. Skaf gerus Die Greyson-probleem volgens Amalie Verhoef aan en ondersteun Anna Emm, ’n skrywer wat verstaan dat daar iets magies in stories skuil.

Die skrywer: Anna Emm is ’n suksesvolle skrywer en entrepreneur. Haar maatskappy, Anna Emm (Pty) Ltd, is ondermeer die grootste vervaardiger van Afrikaanse kinderstories in die land.

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae