Gʼn prekerigheid in jeugverhale

Annelie Ferreira (Foto: Verskaf)

Die suksesresep vir enige jeugverhaal is ʼn interessante storie, karakters waarmee lesers kan identifiseer, taalgebruik so uit die mond van ʼn tiener en ʼn verhaal wat gestroop is van prekerigheid.

Volgens die skrywer Annelie Ferreira, wat vanjaar Lapa Uitgewers se jeugromankompetisie gewen het, is dit haar wenke vir mense wat graag stories vir jonger lesers wil skep.

“Dit is van die elemente wat skrywers in gedagte moet hou wanneer hulle in hierdie genre wil skryf. Ek gee raad uit my ervaring as skrywer, maar ook as leser, want ek weet wat is vir my lekker om te lees,” vertel sy in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Ferreira se jeugroman Dit het alles begin by ʼn hond is as die wenner van die tienerafdeling, asook die algehele wenner van die kompetisie, aangewys.

Die verhaal speel hoofsaaklik in Khayelitsha af en dit vertel die storie van hoe vier uiteenlopende tieners, Fundani, Sandria, Lihle en Vincent, se paaie kruis. Hulle ken mekaar van geen kant nie, maar daar is iets magies wat hulle aan mekaar bind.

Op die vraag oor waarom sy Khayelitsha as ruimte gekies het, sê Ferreira dat dit haar eie werklikheid en begrip van ander mense se leefwêrelde verruim.

“Omdat ek self in die Kaap-omgewing grootgeword het, was Khayelitsha nog altyd deel van my leefwêreld, maar daar is steeds baie verskillende wêrelde reg rondom my waarvan ek eintlik min weet.

“My ervaring is dat hoe meer ek van sulke wêrelde te wete kom, hoe groter word my eie wêreld en hoe groter word ek as mens. ʼn Ruimer en miskien meer begrypende mens.”

Ferreira lag wanneer sy terugdink aan die dag toe sy gehoor het haar jeugroman het gewen.

Sy was saam met die gesoute skrywers Fanie Viljoen en Jan Vermeulen op die kortlys van die tienerafdeling. “Toe ek die lys sien, het ek onmiddellik vrede gemaak met die gedagte dat een van hulle sou wen. Hulle is albei skitterende, ervare skrywers.”

Ferreira was tydens die bekendmaking by vriende in Engeland. “Die dag toe Lapa die wenners op Facebook bekendgemaak het, het ek nie eers ingeskakel nie. Ek was doenig saam met my vriende en was op die punt om my foon af te sit, toe dit begin lui.

“Daar was ʼn opgewonde stem van my uitgewer aan die anderkant wat wou weet of ek na die aankondigings gekyk het. ‘Nee’, het ek gesê en toe deel sy die nuus met my.”

As Ferreira daardie oomblik op enige manier kon vasvang sodat sy dit nooit kan vergeet het, het sy dit lankal gedoen.

“Ek hoop nie ek vergeet daardie gevoel nie, want dit was ʼn baie goeie gevoel. Ek was verstom en vreeslik trots op my karakters.”

Die jeugromankompetisie bied ʼn gulde geleentheid om met uitgewers kennis te maak, mentorskap te ontvang en die moontlikheid om gepubliseer te word. Ferreira sê sy kan die kompetisie met vrymoedigheid vir skrywers aanbeveel.

“Nog voordele is dat vir jou struktuur en ʼn sperdatum gee. Jy het ʼn tyd waarbinne die storie afgehandel moet word. As jy net op jou eie skryf sonder ʼn duidelik doelpaal, gaan jy dalk nooit die storie klaarmaak nie.”

“As jy ʼn skrywer is wat enigsins in hierdie genre belangstel sal ek jou aanmoedig om in te skryf. As jy die kortlys haal of wen is dit ʼn geweldige aanmoediging.”

Skryf jou jeugverhaal in

Voornemende en gevestigde skrywers kan tot 31 Oktober 2023 manuskripte vir Lapa Uitgewers se tweejaarlikse jeugromankompetisie inskryf.

Die kompetisie lewer elke jaar ʼn ryk oes jeugverhale op. Vorige pryswenners sluit Nerine Ahlers (Die verdwyning van Seamus Smit deur Seamus Smit), Jan Vermeulen (Baster, Oopmond en Asem), Fanie Viljoen (Offers vir die vlieë) en Maretha Maartens (Bethel se berg) in.

Prysgeld van R60 000 is vanjaar op die spel. Die algehele wenner ontvang R30 000 en twee naaswenners kry elk R15 000. Skrywers wat nie in die topdrie eindig nie, se manuskripte staan ook ʼn kans om gepubliseer te word.

Besoek Lapa Uitgewers se webwerf vir die volledige lys kompetisiereëls en meer inligting oor hoe om in te skryf.

  • Dit het alles begin by ʼn hond kos R195 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.