Kinderboeke in die kollig in aanlyn uitstalling

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

ElsaCatharien Winckler, ʼn leesgierige van Ermelo, het met ʼn blink plan vorendag gekom om nuwe lewe in kinderboekverkope te blaas.

“Een van my passies is boeke, spesifiek kinderboeke,” sê Winckler. “Ek is veral gek oor Protea Boekhuis se kinderboekvertalings.”

Winckler besit jare lank al haar eie ateljee, Studio EW, wat allerlei Afrikaanse produkte en inhoud skep en bemark word op haar webwerf (www.winck.co.za) – van modeontwerp en kunsitems tot gedigte, illustrasies en stories. Sy vertel dat die idee om ʼn kinderboekafdeling by haar ateljee se webwerf te voeg iets is waaraan sy al lankal dink.

Winckler het tydens die inperkingstyd hierdie gedagte afgestof deur ʼn aanlyn kinderboekuitstalling op Studio EW se webwerf aan te bied.

“ʼn Mens sou kon sê dat dit ʼn impulsiewe gedagte was, maar eintlik het ek net die idee uitgevoer,” vertel sy.

In ʼn onderhoud met Maroela Media het Winckler gesê dat sy Protea Boekhuis tydens die afsonderingstyd genader het oor die moontlikheid om ʼn aanlyn uitstalling aan te bied.

“Ek kon sien dat die uitgewer verbaas was oor dié vreemde versoek, maar hulle het nietemin ingestem.”

Sy het uit haar eie versameling boeke ʼn lys met voorstelle saamgestel en vir die span by Protea Boekhuis gestuur. Hulle het toe pakkette geskep wat nou op Winckler se ateljeewebwerf beskikbaar is.

Winckler sê die doel is nie om geld te maak nie, maar eerder om lesers aan hoë gehalte kinderboeke en stories bloot te stel. Sy deel geensins in die wins wat hierdeur gegenereer word nie.

Die kinderboekuitstalling wat tans op Studio EW se webwerf aangebied word bestaan uit verskeie afdelings. Inligting oor elke boek en pakkette word verskaf en skakels wat lesers na Protea Boekhuis se webwerf lei maak die aankoop van boeke eenvoudig. Winckler fokus ook op die waarde van kinderboeke. Sy het byvoorbeeld ʼn boodskap van die uitgewer ingesluit en met ʼn paar bekende illustreerders oor hul sketse gesels.

Dr. Anzette Williams, redakteur by Protea Boekhuis, meen vertaalde werk stel kinders aan klassieke internasionale kinderliteratuur bekend.

“Dink maar net aan vertalings van klassieke verhale soos dié van Pippie Langkous, Winnie-die-Pooh en Die Goorgomgaai. Dit stel ook Afrikaanse kinders aan internasionale neigings in kinderliteratuur bloot, soos die Harry Potter-fenomeen, en kan ’n verreikende invloed hê op die ontwikkeling van plaaslike Afrikaanse kinderliteratuur deur nuwe illustrasiestyle en nuwe genres plaaslik bekend te stel.”

Lees die volledige onderhoud wat Winckler met Piet Grobler en Alida Bothma, ervare en geliefde illustreerders en kunstenaars, gevoer het op Studio EW se webwerf. Hou ook die ateljee se Facebook-blad dop om meer oor die uitstalling te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.