Kinderboekheldin word 75; kry spognuwe baadjie

Jaco Jacobs en sy kroos met die heruitagwe van Pippie Langkous se verhale. (Foto: Verskaf)

Jaco Jacobs het die afgelope week groot nuus oor sy kinderheldin Pippie Langkous op Facebook gedeel.

“Ek weet nie of ek al ooit, as redigeerder, ’n teks met soveel ontsag benader het nie – dit is immers my kinderboekheldin dié. Die negejarige ek sou nooit kon droom daarvan om sy naam voorop ’n (pragtige nuwe) uitgawe van Pippie se avonture te sien nie,” het hy geskryf.

Jacobs het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel dat hy verlede jaar tydens die inperking uit radeloosheid sy Pippie-boeke nadergetrek, afgestof en vir sy kinders, Emma en Mia, begin voorlees het.

“Nerina Ferreira se vertaling is steeds briljant, maar ons het nogal met die Afrikaans gesukkel,” sê Jacobs. Hy het toe op die ingewing van die oomblik, en volgens hom ook effe voorbarig, vir Michelle Cooper van NB-Uitgewers ʼn e-pos gestuur en aangebied om die taal ’n bietjie te hersien, as hulle ooit so iets sou oorweeg.

Tot Jacobs se verbasing het Cooper byna onmiddellik op sy e-pos gereageer.

“Michelle het laat weet dat 2021 ’n groot jaar vir Pippie Langkous is – sy word 75,” vertel Jacobs. “Hulle het ingestem om Nerina Ferreira se vertaling aan my toe te vertrou vir ’n bietjie nuutmaak en afstof.”

Jacobs sê lesers hoef nie bekommerd te wees oor die nuwe Pippie nie. Sy is steeds net so pittig soos altyd én sy praat boonop nog goed Afrikaans.

“Omdat ek so ʼn groot Pippie Langkous-aanhanger is, het ek niks aan die oorspronklike weergawe gekarring nie. Verouderde woorde wat swaar op die oor val, is met nuwer woorde vervang, maar darem nie met slengtaal nie.”

Die heruitgawe het gister by die Jacobse in Bloemfontein aangekom en natuurlik kon nie een van hulle wag om te begin lees nie.

“So na die eerste hoofstuk het een van kinders gesê: ‘Dit klink nou lekker, Pappa.’ Ek sou nooit hierdie projek aangepak het as dit nie vir my kinders was nie,” sê Jacobs.

Vandag, op Wêreldboekedag, is Jacobs druk besig met aanlyn skoolbesoeke, onderhoude en boekbekendstellings. Hy sê dit is opmerklik hoe mense, veral ouers, weer die waarde van boeke besef het.

“Boeke is ʼn manier om kinders te vermaak wat rekenaar- en selfoonspeletjies nie kan doen nie,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.