Kristel Loots: ‘Skryf gee jou vlerke’

Kristel Loots se jongste boek, “Vroue met vlerke”, het pas verskyn. (Foto: Verskaf)

Kristel Loots se jongste boek Vroue met vlerke het skaars geland of dit pryk reeds op die top-10 van die gesaghebbende Nielsenlys. Dit is sekerlik elke skrywer se droom.

Hierdie gewilde boek met ʼn sterk Christelike boodskap, gaan nie oor vroue met engelvlerke nie, maar juis oor gewone sterflinge wat soms hul vlerkies verbrand.

Gelukkig vind jy soms vryheid aan die ander kant van vergifnis, lui die woorde op die omslag.

“Ek dink soms die samelewing van vandag verwag oor die algemeen van ons as vroue om vlerke te hê en om baie naby aan engele te gaan draai.

“Boonop verwag ons dit ook van onsself.

“Daardie geykte uitdrukking dat ʼn vrou die swakkere geslag is, geld lankal nie meer nie. Swakkere se voet, deesdae hoor jy eerder van girl power.

“Watter wonderlike vryheid lê daarin opgesluit. Of dalk nie,” sê Kristel.

Sy meen die gevaar bestaan natuurlik altyd dat vroue te na aan die son vlieg sodat hul vlerke smelt en hulle gesig eerste terug aarde toe duik.

“Dis ʼn fyn balans wat gehandhaaf moet word.

“Vroue met vlerke is presies dit, hulle ís na aan engele, maar dis so ver as wat die vergelyking gaan. Want soms is jou vlerke in vir herstelwerk.”

Haar hoofkarakter, Emma, met wie talle vroue kan identifiseer – sy beskou haarself as vaal en oorgewig, wat nie waar is nie – het niks gemeen met haar mooie, slanke maar ietwat losbandige kamermaat vir wie die manne tou staan nie. Tog knoop sy ʼn jarelange vriendskap met haar aan.

“Daar is net een probleem – Emma is nie ʼn engel nie, en Emma kan nie vlieg nie. Sy is ʼn afvlerk-vrou, niks meer nie.

“Sy kan nie van die grond af kom nie, want sy dra swaar aan skuldgevoelens. En aan haar gewig.

“Dit hou haar op die grond.”

Arme Emma het aanvanklik die selfbeeld van ʼn brommer.

Nie Emma, wat swaar aan twee groot geheime in haar lewe dra, of Janet het vlerke nie. Janet, met haar verskroeide vlerke, het ook nie juis soos ʼn arend gesweef nie. Al het haar lewe van buite af benydenswaardig gelyk.

“Emma se suster, Bella, is letterlik ʼn afvlerk-vrou, liggaamlik en geestelik, en dit was Emma wat haar ellende veroorsaak het. So glo sy vas.”

Emma se ma is veroordelend, ryg heeldag Bybelversies uit en bederf Bella, tot Emma se irritasie, tot in die afgrond.

Die mans in Emma se lewe is die arrogante dr. Burger Botha en die gelowige Richard wat haar enigste ware vriend is. Haar bleeksiel skaakspeler maat.

Hier is daar ook kinkels in die kabels wat dit volgens Kristel moeilik vir haar beskermengele maak om hul werk te doen.

Emma, wat die beeld van ʼn Mona Lisa met haar lang golwende hare het, is soekend – na liefde, aanvaarding, bevryding en vergifnis, vertel Kristel.

“Maar sy soek dit op verkeerde plekke en op verkeerde maniere.”

Later in die verhaal besluit sy met die hulp van haar moedelose en onwillige haarkapper, die flambojante Roberto, om haar voorkoms drasties te verander. Doodmoeg vir die koekerige beeld.

Sy wil jonk, blond en funky wees.

Mense skrik hulle dan oor ʼn mik vir haar. Sy is skaars herkenbaar. Dit is nie die reaksie wat sy wou gehad het nie.

Emma vind eers rus as sy haarself en ander vergewe en bieg oor haar sondes, want die waarheid maak jou vry.

Maroela Media het by Kristel uitgevind hoekom sy skryf.

“Skryf kan as terapie dien: vir jou en vir jou leser. Dat jy skryf en wat jy skryf het natuurlik emosioneel en psigies ʼn invloed op jou. Dieselfde energie waarmee jy skryf, word oorgedra aan jou leser.

“Daaroor kan ʼn mens lank argumenteer en redeneer en filosofeer, maar ek dink die kort antwoord is dat jy nie regtig anders kan, of wil, of sal as jy eers die towerkrag van skryf ontdek het nie.

“Jy skryf want die wêreld daar buite is woes en wild, en soms wil jy as skrywer daarvan wegkom. Dit kry jy reg by jou rekenaar, by jou sleutelbord of met ʼn skryfding in die hand.

“Jy nooi jou leser om saam met jou vir ʼn rukkie uit die totale gekheid te ontsnap en in Lalaland te kom kuier.”

Kristel reken die fantasie van fiksie is soms soveel beter as die werklikheid om jou, maar skryf is ʼn pad vol duwweltjies, en die teleurstellings is dalk meer as die suksesse.

“Hoewel net mooi niks vergelyk met die euforie daarvan om met jou boek in jou hande te staan nie. Daaraan te ruik, te voel en foto’s te neem om vir almal wat jy ken en elke familielid en vriend of vyand te stuur.

“Om daardie boek oop te slaan en daaruit te lees. Jou eie woorde wat jy nie noodwendig dadelik as sodanig herken nie en wat nou skielik vir jou magic is.

“Ek self is nie ʼn letterkundige nie, wat ek skryf is nie ‘letterkunde’ as sodanig nie. Ek skryf ontspanningsverhale, wat ook bemark word as ‘goeie, gewilde prosa’. Dis musiek in my ore.”

Kristel sê ʼn verhaal moet vermaaklik wees sonder om as oppervlakkig gesien te word. Sy skryf graag gesinsverhale, gewone stories oor gewone mense waaronder liefdesverhale ook geklassifiseer kan word. Dan skryf sy ook liefdesverhale waaraan daar ietwat van ʼn stigma kleef, hoewel sy haar wil verstout om te sê daar is min stories waarin daar nie ʼn ondertoon van ʼn liefdesverhaal skuil nie.

“Ook geld min of meer dieselfde vereistes vir enige van die genres wat daar is. Die verhaal moet jou leser meevoer, nie verveel sodat die boek deur die lug gelanseer word om iewers in ʼn hoek te beland nie.”

Kristel het skaars leer skryf toe die moeilikheid begin het, vertel sy.

“‘Moenie jou letters so groot en vet maak nie,’ is ek berispe. Maar ek wou. Mense moes kon sien wat ek geskryf het, hulle moes wéét daarvan. Mense moes lees wat ek geskryf het.

“Om my groot, vet letters gepubliseer te kry, waar mense dit behoorlik kon sien en lees, en nog daarvoor betaal word, laat my onwrikbaar aan wonderwerke glo.”

Terug by haar jongste boek en vlerke.

Kristel sê Erin Hanson, ʼn jong Australiese digter, het die huiwering van ʼn vrou om die onbekende aan te durf vasgevat in ʼn paar raaksê-woorde: “There is freedom waiting for you, on the breezes of the sky. And you ask, ‘What if I fall?’

En die antwoord hierop is: “Oh, but my darling, What if you fly?”

Om te skryf, sê Kristel, moet jou vlerke gee sodat jy dit vir jou leser kan verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.