Luister: Mevrou Smit gʼn goeie tannie in Aaronspoort

Die kleurvolle voorbladontwerp van Elizabeth Wasserman se Die fantastiese mevrou Smit is net die begin van ʼn heerlike leeservaring wat op lesers wag.

“Om te skryf is altyd vir my lekker, maar om mevrou Smit se storie te skep, was vir my ʼn dubbele lekkerte,” vertel Elizabeth laggend.

Die storie begin met mevrou Smit se aankoms in Aaronspoort, ʼn fiktiewe dorp wat Elizabeth losweg op Montagu in die Wes-Kaap geskoei het, wat groot opskudding veroorsaak.

Nie net bring sy as gevolg van kamtige “onaanvaarbare gedrag” haar eerste nag in polisieaanhouding deur nie, maar met die intrapslag kom sy ʼn dooie liggaam op haar kombuisvloer teë.

Nóg mevrou Smit nóg die inwoners van Aaronspoort weet wat hulle tref wanneer allerlei intriges hierna ontvou. Mevrou Smit is egter vasbeslote om die moordenaar vas te trek, maak nie saak op hoeveel tone sy trap of hoeveel van die dorp se skandes uitpeul nie. Namate die sterftesyfer styg raak sy boonop al hoe meer ongewild in dié hegte kleindorpse gemeenskap.

Die fantastiese mevrou Smit word as ʼn knussie (cosy mystery) getipeer, wat ʼn subgenre van die misdaadroman is. Wat lesers dus kan verwag is ʼn speurverhaal wat deurentyd ʼn ligter trant handhaaf.

Elizabeth Wasserman, skrywer van ‘Die fantastiese mevrou Smit’. (Foto: Peter van Noord)

Elizabeth is bekend vir gewilde kinderreekse soos Speurhond Willem, Anna Atoom, Kattemaai (onder die skuilnaam Betsie Vos), en die Elf dae-reisverhale vir tieners. Die Fantastiese mevrou Smit is haar eerste fiksieboek vir volwasse lesers.

Oor ʼn opvolgboek wil Elizabeth nie te veel verklap nie, net dat daar wel toekomsmoontlikhede vir mevrou Smit en die inwoners van Aaronspoort is.

“Ek dink as die storie aangaan sal mevrou Smit waarskynlik aanhou om moeilikheid te maak en haarself dieper in die dorp in wikkel. Sy het nog nie haar verlede heeltemal afgeskud nie, so daar is nog ʼn kans dat dit haar kan inhaal.

“Wat mevrou Smit wel ook sal moet leer, is om ʼn goeie tannie te wees wat ʼn bietjie meer betrokke by die gemeenskap is,” skerts Elizabeth.

Die fantastiese mevrou Smit kos R290 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Elizabeth Wasserman, skrywer van Die fantastiese mevrou Smit. Sy brei uit oor die vreugdes, hoogtepunte en proses om die storie te skryf.
  • Elizabeth Wasserman gesels in April by verskeie bekendstellings in Gauteng oor haar boek: op 13 April om 18:00 by Exclusive Books in Centurion, op 14 April om 10:00 by Alkantrant Biblioteek in Lynnwood, en op 15 April om 11:00 by The Book Keeper Shop in Equestria en om 15:00 by die Vryeweekblad-fees in Cullinan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.