Niklaas van Rensburg: Die Siener – Uittreksel 2

Die Anglo-Boereoorlog – die “geboorte van ’n siener”
Eerste visioen by Taung

Sedert die Jameson-inval het oorlogswolke digter oor die ZAR saamgepak. Die gespanne verhouding tussen die Republiek en Groot-Brittanje is op die spits gedryf toe die Republiek se staatsekretaris, F.W. Reitz, op Maandag 9 Oktober 1899 om 17:00 die ZAR se ultimatum aan die Britse gesant, W. Conyngham Greene, oorhandig het. Daarin is onder andere versoek dat die Britse troepe wat sedert 1 Junie 1899 in Suid-Afrika geland het, uit die land verwyder moes word. Die afwysende antwoord is op Woensdag 11 Oktober 1899 om 14:00 deur die Britse gesant aan die staatsekretaris van die Zuid-Afrikaansche Republiek afgelewer. Die Zuid-Afrikaansche Republiek was in sy tweede vryheidsoorlog teen Groot-Brittanje gewikkel.

Genl. Piet Cronjé was die Boeremagte in die Wes-Transvaal se bevelvoerder. Op sy bevel het genl. De la Rey, sy assistent, op 12 Oktober na Kraaipan vertrek, ongeveer 25 myl (40 km) suid van Mafeking, waar sy burgers die spoorlyn opgebreek het om treinverkeer aan bande te lê. Niklaas was ’n burger in hierdie kommando.

Kort daarna het ’n gepantserde trein in De la Rey se hande geval en wapens en ammunisie is buitgemaak.

Tydens die aanval by Kraaipan het Niklaas se “blou” (skimmel)- perd spoorloos verdwyn. Swaarmoedigheid het van Niklaas besit geneem, dermate dat hy gesê het geen pen kan die swaarmoedigheid beskryf nie; dieselfde gevoel, het hy bygevoeg, wat hom van jou meester maak as jy ’n sterfgeval in jou huis gehad het. Niklaas se kombersmaat Gert van Wyk het dadelik hierdie toestand by Niklaas bemerk, maar dit toegeskryf aan die verlies van sy perd. Hy het Niklaas verwyt dat hy meer van sy perd dink as van sy land en volk. Niklaas se neerslagtigheid was waarskynlik te wyte aan ’n hele aantal faktore: Die realiteit van oorlog wat finaal tot die burgers deurgedring het; die verlies van ’n perd wat vir die burger op kommando ’n bykans onherstelbare terugslag was, en kommer oor sy vrou en kinders tuis. Feit is dat Niklaas se gevoel enkele dae later nog dramatieser implikasies sou hê.

Op 19 Oktober 1899 het Cronjé vir De la Rey tot veggeneraal bevorder en hom beveel om na Kimberley op te ruk met ongeveer 1 800 man uit die distrikte Lichtenburg, Bloemhof en Wolmaransstad. Cronjé het met byna 6 000 man te Mafeking agtergebly om die dorp, strydig met De la Rey se advies, te beleër. Op 22 Oktober 1899 het De la Rey Vryburg ingeneem en in Taung se rigting getrek, waar hy die plaaslike swart kaptein wou spreek ten einde hom te oorreed om nie by die oorlog betrokke te raak nie. Niklaas se swaarmoedigheid het voortgeduur tot die kommando op Taung aangekom en die nag daar vertoef het. Daardie nag het Niklaas sy eerste volwaardige visioen gehad, waarin van die mees skrikwekkende gebeure van die oorlog aan hom geopenbaar is.

Die volgende oggend toe Gert van Wyk wakker word, merk hy Niklaas se skoene lê nog soos hy dit die vorige aand uitgetrek het, asook sy baadjie. Niklaas was egter skoonveld. In die dou en hoë gras kon hy Niklaas se spoor tot by ’n bos volg, waar hy hom in ’n “haglike toestand” gevind het, “nat gehuil”. Gert het Niklaas verwyt – soos by Kraaipan – dat hy bang is om te veg, dat hy ’n lafaard is en hom gevra of hy nie die vryheid van sy land hoër ag as sy lewe nie. Niklaas het geantwoord hy is nie bang nie, maar hy het in ’n gesig gesien hoe Boerewonings afgebrand word, Boerevrouens weggevoer en in die kampe gestop word en dat talle sterfgevalle onder hulle voorkom; hoe boerderye verwoes word; hoe die Engelse die Vrystaat binneval, hulle vlag in Bloemfontein hys en later ook Pretoria inneem.

Die burgers, in besonder Gert, se eerste reaksie was woede. Hulle het Niklaas verwyt dat hy die burgers afvallig maak, ander het gesê hy is kranksinnig en hoort in ’n gestig. Dit was vir Niklaas byna ondraaglik. Sommige burgers se teenreaksie was: “Met die Mausers sal ons die Engelse skiet dat hul derms aan die bome hang. Generaal Cronjé alleen is genoeg om die hele Britse leër in die see te jaag met die Duitse Mausers en kanonne.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae