Onthou oorlogshelde met dié bundel

Otto Hohls se grafsteen. (Foto: Verskaf)

Sou jy die dag deur Pretoria se ou begraafplaas in die ou Kerkstraat-Wes stap, word jy deur die verhale van gevalle helde omring. Party baie bekend, soos dié van Paul Kruger en sy familie, Jopie Fourie of Eugene Marais. Maar daar is ook verhale van minder bekende, selfs onwaarskynlike helde uit die Anglo-Boereoorlog se tyd, wat tussen die grafstene versteek is.

Om hulde te bring aan dié oorlogshelde wat so ʼn groot invloed op ons land en die karakter van Afrikaners gemaak het, het die Vriende van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke se Pretoria-tak ʼn bundel saamgestel. In hierdie bundel word inligting oor grafte wat met die Anglo-Boereoorlog verband hou, saamgevat. Van waar presies die graf geleë is tot waar daardie man (of vrou) vandaan gekom het, wat sy rol in die oorlog was en hoe hy dood is.

Om met hierdie bundel deur die hekke van die begraafplaas te stap, is soos om met ʼn duidelik gemerkte skatkaart na ʼn ou skatkis op ʼn lank vergete, afgeleë strand te gaan soek. Die kans dat jy iets waardevols op jou tog vind, is baie goed!

Russiese luitenant Von Strolman

Daar is talle tragiese verhale in hierdie begraafplaas opgesluit, ook van buitelanders wat hier ter ruste gelê is. Een so ʼn voorbeeld is luitenant Boris Andreevitch von Strolman, wie se verhaal byna soos ʼn rolprentdraaiboek lees. Sy storie begin in 1872 in Moskou, waar hy gebore en geskool is. Daarna sluit hy by die Russiese imperiale vloot aan. Tussen 1891 en 1892 vergesel hy die tsarewitsj, latere tsaar Nikolaas II, op ʼn wêreldtoer. In 1892 is hy tot luitenant in die vloot bevorder en in 1898 is hy as een van die eerste Russiese duikers opgelei.

 

Von Strolman. (Foto: Verskaf)

In Januarie 1900 is Von Strolman, op sy eie versoek, na die vlootreserwe oorgeplaas sodat hy aan die Anglo-Boereoorlog kon deelneem. Hier aangekom, word hy lid van die Danie Theron-verkenners en is betrokke by verskeie aksies saam met die baasverkenners Danie Theron en Henri Slegtkamp.

In Junie van dieselfde jaar kry die verkenners opdrag om ʼn Britse mag buite Lindley in ʼn hinderlaag voor te lê. Net ná sonsopkoms op 26 Junie het ʼn Suid-Australiese patrollie op Paardeplatz, naby Lindley, op ʼn rantjie beweeg. Kort daarna het ʼn skermutseling met die Boere, wat op ʼn aangrensende rantjie ingegrawe was, ontstaan.

Luitenant Von Strolman het te perd op die rantjie uitgery nadat hy ʼn gewonde Hollander afgevoer het. Kaptein AFM Norton, bevelvoerder van die B-eskadron van die 4th South Australian Imperial Bushmen, was ʼn uitstekende skut en het Von Strolman vanaf 1 100 m met ʼn kopskoot getref. Hy het waarskynlik onmiddellik gesterf.

Altesaam 13 verkenners is op dié dag gewond of het gesneuwel. Die verkenners moes vlug omdat die kommando wat die Britte van agter moes aanval eers afgesaal het vir ontbyt.

Luitenant Von Strolman is op Doornkloof, trekkerleier Sarel Cilliers se plaas, buite Lindley saam met ʼn medegesneuwelde begrawe. Sy moeder het egter uit Moskou versoek dat haar seun se oorskot in Pretoria se begraafplaas herbegrawe word. Dit is in 1906 so gedoen. Die Russiese ambassade het die graf opgeknap en eer aan Von Strolman bewys.

Duitse adellike Von Dalwig

Kaptein Alfred George Ludwig Elgar Felix Freiherr von Dalwig. (Foto: Verskaf)

Alfred George Ludwig Elgar Felix Freiherr von Dalwig was ʼn lid van die Duitse adel uit Dombrowka in die huidige Pole, en het die titels Ritter (ridder) en Freiherr (baron) Von Dalwig van sy vader en moeder gebruik. Hy was deel van die Duitse kavallerie en het uit die Duitse leër afgetree.

In Maart 1896 kom hy vanaf Essen in Johannesburg aan. Staatsekretaris FW Reitz het hom op 2 Oktober 1899 as burger ingesweer en kort daarna word hy as kaptein in die staatsartillerie van die ZAR aangestel.

In die Anglo-Boereoorlog is hy saam met reserwe-artilleriste by Malmani gestasioneer, met van die kanonne wat ná die Jameson-inval gebuit is. Hy neem deel aan die aksie by Klipriviersberg en daarna ook by Bergendal.

By Bergendal word hy ontplooi op die plaas Waaikraal, wat in literatuur “Von Dalwig se kamp” genoem word. Die Long Tom-kanon wat op ʼn treintrok gemonteer was, is eers by Elandskop ontplooi, maar toe generaal Redvers Buller na Belfast beweeg, in plaas van Machadodorp, is dit na Von Dalwig se posisie verskuif.

Met die bombardement op 27 Augustus 1900 is hy gewond en het ʼn arm verloor. Luitenant-kolonel SPE Trichard verwys na hom as die “dappere kaptein Von Dalwich”.

Hy het die oorlog oorleef, maar sy huwelik het gesneuwel. Ná sy egskeiding in 1902 trou hy weer, maar hy en sy nuwe vrou voer ʼn armlastige bestaan in Pretoria. Die enigste pos wat hy kon kry, was as hoof van die straatveërs. Sy boedel het ʼn skamele bedrag van £4 in sy rekening gewys. Hy het na bewering in 1911 sy eie lewe geneem.

Koningin Victoria se kleinseun

Christian Victor Albert Louis Ernst Anton van Schleswig-Holstein was ʼn kleinseun van koningin Victoria. Sy ma was prinses Helena, tweede jongste dogter van die koningin, en sy pa prins Christian van Schleswig-Holstein.

Hy is in 1867 in die Windsor-kasteel gebore en studeer onder meer aan Oxford, waar hy die krieketkaptein was.

Von Dalwig se graf. (Foto: Verskaf)

Van Schleswig-Holstein se roemryke militêre loopbaan het begin toe hy tot die Royal Military College toegelaat is en in 1888 sy kommissie in die King’s Royal Rifle Corps ontvang het. Hy is eers in Indië ontplooi en het daarna aan die Hazara- en Miranzi- ekspedisies en die Isazi-ekspedisie deelgeneem. Daarna was hy lid van die Ashanti-ekspedisie in Ghana. Hy het ook onder lord Kitchener by Omburman in Soedan geveg.

Toe kom hy na Suid-Afrika om aan die Anglo-Boereoorlog deel te neem. Hy was eers deel van generaal Buller se mag en by die ontsetting van Ladysmith betrokke, waarna hy as ʼn bykomende aide-de-camp van lord Roberts in Pretoria ontplooi is.

In hierdie belangrike stadium van sy loopbaan word Van Schleswig-Holstein egter siek. In Oktober 1900 het hy malaria opgedoen en kort daarna ingewandskoors. Hy sterf op 29 Oktober 1900 in die Royal Imperial Yoemanry Hospitaal in Merton Keep in Arcadia, nadat hy die laaste sakrament in die teenwoordigheid van lord Roberts ontvang het.

Hy is op 1 November 1900 met volle militêre eerbewys begrawe. Sy moeder, prinses Helena, besoek sy graf in 1904 en plant ʼn akkerboom oorkant die straat, in wat toe Weseindepark genoem was. Die park word tot sy eer hernoem na Prinsepark. Daar staan vandag nog ʼn boom ter ere van die gevalle prins, maar dit is later geplant en staan nie op die oorspronklike plek nie.

Onthou die tragiese helde

Désiré Tieleman de Villiers. (Foto: Verskaf)

Afgesien van hierdie drie manne, was daar ook baie ander wat hul lewe tydens die oorlog opgeoffer het. Ek lees in die bundel oor die geleerde luitenant Coster, staatsprokureur van die ZAR wat aan ʼn kopwond beswyk het; Désiré de Villiers, die stil, teruggetrokke seun wat tydens die beleg van Ladysmith gesneuwel het en ʼn grafsteen van Carrara-marmer uit Italië gekry het; en ds. Goddefroy, wat in Natal op kommando was met sy Bybel as wapen.

Die dapper dokter Hohls het gesterf terwyl hy ʼn gewonde onder vyandelike vuur behandel het, en die onderwyser Ligthelm het sy skool in ʼn hospitaal omskep voordat hy as krygsgevangene geneem is. Dis ook interessant om te lees watter rol die bekendes, soos Eugene Marais en Jan FE Cilliers, in die oorlog gespeel het.

Hierdie bundel maak die geroeste deur na die Anglo-Boereoorlog op ʼn skrefie oop en skyn ʼn lig op die lewens van mense wat die hoogste prys betaal het. Mag ons hulle altyd onthou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.