Pa wil hoop gee ná tragedie

Stefan Lessing, skrywer van ‘Lig deur die krake’ (Foto: Verskaf)

Dit is ʼn heerlike herfsdag in Gordonsbaai. Stefan Lessing en sy seun Waldi* is opgewonde om dié dag saam met ʼn groep pa’s en hul seuns te gaan stap in ʼn kloof waar die Steenbrasrivier in die see uitmond.

Die staproete duur ongeveer ʼn uur voor ʼn mens by die asemrowende Crystal Falls uitkom. “Die kristalhelder poele, boomryke oewer en rotse skets ʼn prentjiemooi toneel,” vertel Stefan.

Op daardie dag, 5 April 2003, het Stefan uitgesien na tyd saam met sy seun, min wetend dat ʼn fratsongeluk later tot sy dood sou lei.

“ʼn Klomp van ons het voor middagete na die hoogste punt van die waterval gestap,” onthou Stefan. “Dit was ʼn hele ent tot bo en teen dié tyd was almal rasend honger.”

Stefan het op aanmoediging van sy vriend wat die dag georganiseer het, van ʼn rots af in een van die poele gespring. Die res van die mans het met ʼn enkelvoetpad teruggestap. Omdat die pad kronkel, was die groep stappers nie heeltyd sigbaar nie.

“Ek was eers huiwerig om te spring, maar het toe die uitdaging aanvaar. Nadat ek in die water geplons het en op pad kant toe was, het ek gesien hoe Waldi na onder tuimel.”

Dokters wat deel van die groep was, het verbete geveg om Waldi se lewe te red, maar hy is toe later op die toneel dood verklaar.

Ongeveer 17 jaar later deel Stefan sy verhaal en hoe dié tragiese gebeurtenis sy lewe onherroeplik verander het. Na ʼn egskeiding en die dood van sy elfjarige seun, het Stefan die gevaar gestaan om homself, sy menseverhoudings, asook sy geloof in God te verloor.

“Ons almal se lewens is op verskillende maniere stukkend of geskeur. Maar dit is juis deur dié krake wat ons lig na buite kan skyn. Dit is soos ʼn kunswerk wat ons seer en mooi aan die wêreld kan wys,” het Stefan onlangs in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Namate Stefan die stukkies van sy lewe weer opgetel het, het hy ʼn warboel emosie ervaar. Hy het by tye met God geworstel en wou dikwels die skryfproses staak.

In Lig deur die krake lê Stefan sy verhaal bloot, omdat hy glo dat dit iemand deur ʼn krisis kan help. Die titel van sy boek is te danke aan tannie Elsa, ʼn baie goeie vriend van hom se ma. Tannie Elsa is ʼn afgetrede onderwyser met ʼn meestersgraad in Afrikaans en Nederlands wat deurgaans uitgehelp het met teksversorging van die boek. Sy het ook waardevolle insette gelewer oor die inhoud en styl, en onder meer met die titel vorendag gekom.

“Ek het baie lank aan die boek geskryf. ʼn Mens is geneig om jouself te bevraagteken, te wonder of jou storie regtig so ‘erg’ is en of dit werklik ʼn verskil in iemand anders se lewe gaan maak,” vertel Stefan.

Maar ondanks die gevoel van onsekerheid het hy deurgedruk en vandag kyk hy met dankbaarheid terug op die reis wat hy voltooi het. Hy is veral opgewonde oor die moontlikheid dat sy storie dalk iets vir iemand anders kan beteken.

“Dit maak my amper opgewonde om te dink dat iemand my lewensverhaal gaan lees en daardeur hoop vir ʼn situasie in hul eie lewe gaan vind,” deel Stefan.

Stefan se behoefte om ʼn verskil in mense se lewens te maak het gelei tot die totstandkoming van Tru-Heart Coaching, waarvan hy die medestigter en direkteur is. Hy is ʼn leierskap- en lewensafrigter en ook die skrywer van ʼn selfstudie pakket “Become the persone you want to be”.

Met sy boek Lig deur die krake wil Stefan vir mense sê dat daar in dié moeilikste tye, die seerste oomblikke en mees komplekse uitdagings hoop, antwoorde en/of uitkoms is.

“Ek wil mense aanmoedig om vir ʼn oomblik weg te draai van die dinge wat jou rede gee om tou op te gooi en eerder te kyk na dít wat jou motiveer om aan te gaan.”

*Die skrywer het deurgaans skuilname in Lig deur die krake gebruik.

  • Ná ʼn egskeiding en die tragiese dood van sy elfjarige seun het Stefan Lessing die gevaar gestaan om homself, sy menseverhoudings, asook sy geloof in God te verloor. In Lig deur die krake lê hy sy verhaal bloot, omdat hy glo dat dit iemand daardeur kan help. Luister bo-aan die berig na ʼn onderhoud met Stefan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.