Plaasmeisie (16) is beste kinderboekillustreerder

(Foto: Verskaf)

Wat is ʼn kinderboek sonder illustrasies? ʼn Boek se omslag en die kleurryke tekeninge binne is wat ʼn mens twee keer laat kyk.

Janien Müller (16), ʼn leerder by Langenhoven Gimnasium en plaasmeisie van die plaas Dieprivier in Oudtshoorn, is pas as ʼn wen-illustreerder in haar afdeling aangewys nadat Protea Boekhuis vir die eerste keer die geleentheid gehad het om internasionale illustreerders in die kompetisie Picture This! te beoordeel.

In Janien se ouerhuis brand die vreugdevure hoog oor hierdie prestasie. Die beoordelaars het nie geweet sy is so jonk nie.

Gevra wanneer haar ouers agtergekom het dat sy ʼn kunstalent het, antwoord haar trotse ma, Barendien, dat sy sedert sy ʼn potlood kon vashou, ingekleur of geteken het.

“Sy het ons altyd ingelig dat sy nog aan die ‘details’ wil werk.

“Een van ons mees waardevolle besittings is ʼn skets van haarself wat sy in haar pa se ID-boekie gedoen het toe sy maar so 5 of 6 jaar oud was.”

Janien sê dat sy vanaf gr. 7 teken ernstig begin opneem het en toe graag nuwe tegnieke en style wou aanleer.

(Foto: Verskaf)

“My skeppende kunsonderwyser het my in gr. 8 en 9 baie gemotiveer om nog meer in die kunste te delf en te ontdek. Ek het intussen ook sedert gr. 10 baie in die vak ontwerp geleer.

Janien was 13 toe sy die eerste keer aan ʼn kompetisie deelgeneem het. Sy het besef daar is so baie kompetisies dat ʼn mens kieskeurig moet wees omdat kuns baie tyd in beslag neem.

Sy en haar gesin is stomgeslaan oor die toekenning en vertel dat dit hulle “nederig en dankbaar” laat voel.

Dit het heeltyd in haar ouers se agterkop gebly dat geleerde en meer volwassenes die uitblinkers sou wees.

Janien wil na skool grafiese ontwerp gaan studeer, maar sy wil ook graag animasie doen en stel in argitektuur belang.

Hoewel sy baie verskillende mediums gebruik, is potlood, fineliner, waterverf en oliepastelle haar gunstelinge. Sy wil ook graag haar digitale kuns verder ontwikkel.

Hoe sal sy haarself as mens en as kunstenaar beskryf?

“My kop is vol boksies met stories en verskillende idees. Dit hou net nooit op nie. As ek na iets kyk, kan ek al sien waar ek dit wil gebruik.

“Maar in die eksamentyd moet ek daardie boksies toehou om op my skoolwerk te konsentreer.”

Haar ander belangstellings is boeklees en om na animasie- en gewone flieks te kyk.

“Die eerste keer vir die storielyn en die ander kere vir die animasie se simboliese boodskappe, tegnieke van kuns en die fyner besonderhede.”

Sy stap ook graag vir oefening en geniet sang en drama. Dan luister sy graag na musiek, veral as sy teken.

By haar skool – sy is ʼn trotste Gimmie – is sy by hul redaksiepan betrokke en verantwoordelik vir die skoolkoerant, Die Brul, se strokiesprent Jack & Lisa.

Hoewel sy al ʼn aantal vorige kompetisies gewen het, is hierdie een wat deur Protea Boekhuis gereël is, vir haar “’n groot voorreg en wonderlike blootstelling”.

(Foto: Verskaf)

Meer oor die kompetisie

Daar is gewoonlik drie wenners uit Afrika en dalk ʼn eervolle vermelding, vertel Reon Erasmus, bemarker by Protea Huis wat die kompetisie gereël het.

“Hierdie jaar het ons egter drie Suid-Afrikaanse (uit Afrika) wenners en twee internasionale wenners. Ons is trots om die volgende wenners aan te kondig: Uit Afrika – Berna Hancke-Coles (Gauteng), Janien Müller (Wes-Kaap) en Maruné de Bruyn (Gauteng). Die internasionale wenners is: Desislava Georgieva (Bulgarye) en Risa Kusumoto (Japan),” sê Reon.

“Ons beoordelaarspaneel was Piet Grobler, Alida Bothma en dr. Mia Oosthuizen, gerespekteerde illustreerders en kundiges op die gebied van kinderboekillustrasies.”

Die kriteria waarvolgens hulle beoordeel het, was onder meer ʼn fokus op die kinderleser, die skep van ʼn samehangende en konsekwente visuele narratief en van geloofwaardige karakters en oorspronklikheid wat styl betref.

(Foto: Verskaf)

Die wenkunstenaars se werk sal deel uitmaak van ʼn reisende tentoonstelling in die deelnemende lande en die finale keuse van wen-illustrasies sal ook in ʼn internasionale katalogus gepubliseer en aan bekende internasionale kinderboekuitgewers by die Bologna Kinderboekebeurs in 2024 voorgelê word – ’n uitstekende geleentheid vir kunstenaars om internasionale blootstelling te verkry.

Reon sê hy het nie eers geweet hoe jonk Janien was nie, wat haar prestasie nog meer indrukwekkend maak.

“Ek is van mening dat kinderboeke en hul illustrasies baie belangrik is en dat daar min geleenthede vir illustreerders in Suid-Afrika is, tensy jy werklik baie bekend is. Maar êrens moet jy begin en ek dink Protea gee ʼn mooi geleentheid aan hulle.

“Ons het al drie illustreerders gedurende die laaste vyf jaar gebruik en net verlede week het Robin van der Gaag, regte-bestuurder by Lemniscaat Uitgewers in Nederland wat die Picture This!-kompetisie begin het, my oor een van verlede jaar se wenners, Veronica Bekker, gekontak oor moontlike internasionale werk. Dus is die geleenthede daar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

S ·

Indrukwekkend! Meisie, jy verdien ‘n staande toejuiging, so ook die kunsonderwyser wat jou (en ander) gemotiveer het om te delf en te ontdek (besonders mooi). Welgedaan en hou so voort, jy gaan nog baie hoë hoogtes bereik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.