Ses bobaas kinderboeke

Kinders wat lief is vir lees en hulle ook graag verlustig in boeke met mooi prentjies, kan gerus naderskuif – daar is tans baie oulike boeke beskikbaar in die boekwinkels.

Kategorie 0-6 jaar

Ek is sommer baie beïndruk met beide hierdie fantastiese kartonboeke wat ryklik geïllustreer is deur Fiona Powers. Daar is vreeslik baie moeite gedoen om hierdie stewige boeke so aantreklik as moontlik te maak vir die jongspan. Daar is tien opwindende lig-en-loer-flappies in elke boek met die wonderlikste dinge oor die see en plaas om te ontdek. Die inhoud is prettig en baie leersaam. Die boeke stimuleer kinders se denke en verbeelding én ontwikkel hulle hand-oog-koördinasie en woordeskat. Skaf gerus Loer binne: Die see en Loer binne: Die plaas aan wat deur Human & Rousseau in Afrikaans uitgegee word en propvol versteekte verrassings is.

Kategorie 7+

Hierdie twee gróótformaat (370 mm x 270 mm) hardeblad-ensiklopedieë deur Wojciech Grajkowski (outeur) en Pietr Socha (illustreerder) het verskeie internasionale benoemings en toekennings ingepalm en is ook in dosyne tale vertaal. Die indrukwekkende illustrasies is besonder mooi. Die teks is treffend, veelvlakkig, en met net genoeg humor om kinders aan die lees te hou. Elke bladsy bevat vele interessanthede. In Die boek van bye volg die leser die geskiedenis en doen en late van bye van antieke tye tot nou. In Die boek van bome leer die leser onder meer oor die rol wat bome gespeel het in geskiedenis, mites en legendes en biologie. Hierdie treffende boeke wat deur Protea Boekhuis in Afrikaans uitgegee word, is ’n lus om deur te blaai. Dit gons behoorlik van al die nuttige informasie en is perfek vir skooltake.

Kategorie 13+

Kinders wat van grafiese kuns hou, sal gaande wees oor Laaste lewe, ’n grafiese roman deur Fanie Viljoen wat gedetailleerd geïllustreer is deur Daniël Hugo. Jong strokiesprentliefhebbers sal ook baie hou van François Bloemhof se Kaptein Pipskwiek wat Shaun Samuel kunstig geïllustreer het. Ek het heerlik aan beide boeke gelees.

Laaste lewe vertel die spanningsvolle verhaal van Die Swart Kraai wat eers Sam se pa vermoor het en toe vir Sam om die lewe gebring het. Sam, wat oor sewe lewens beskik, is egter nie dood nie – hy het nog één laaste lewe oor. Hy kom terug aarde toe met die doel om Die Swart Kraai dood te maak. Maar wat is ’n storie nou sonder ’n aantreklike, misterieuse meisie? Die skone Claire grawe grafte om aan die lewe te bly. Sy skrik haar eers boeglam toe Sam in sy graf wakker word, maar besluit dan om hom te help. LAPA Uitgewers gee hierdie lekkerleesboek uit.

Kaptein Pipskwiek is die opwindende verhaal van Danie wat geboelie word, maar dan keer ’n geheimsinnige vreemdeling hom voor en vertel hom dat daar vyande op die Aarde is en dat Danie “Die Een” is wat hulle moet verslaan. Danie droom daarvan om ’n gemaskerde held te wees wat kan vlieg, maar loop hom gou vas in Kragman. Boonop word sy ma meteens baie siek. Kan Danie die dorp en planeet red? En sal dinge by sy ouerhuis ooit beter word? Penguin Random House SA gee hierdie oulike boek uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.