Tania Strauss leef met woord en klank

Tania Strauss is ‘n sanger en skrywer met ‘n passie vir haar geloof en ouerskap. (Foto verskaf)

Deur Elize Perrin

Tania Strauss leef in ʼn woord-wêreld; toegevou met klank.

Eerste klanke

As kind van die gospelsanger, Willie Botha, is sy reeds van kleintyd af blootgestel aan musiek.

Klankateljees is deel van haar kleintyd-herinneringe. As twaalfjarige het sy reeds haar eerste solo-album opgeneem.

Alhoewel sy op ʼn jong ouderdom die bedryf betree het, sou sy dit nie anders wou hê nie.

“Dit was ʼn besondere eer om as kind, dalk onbewustelik, so baie te leer,” vertel sy. “Die verhoog is soos my tweede huis. Ek het die voorreg gehad om vir jare saam met my pa op te tree en is nou al 27 jaar op my eie; voltyds in die sang- en Woordbediening.

“My pa se mooiste voorbeeld en les wat hy my geleer het, is dat dit nie nodig is om ʼn verhoogpersoonlikheid te hê nie. Willie Botha is dieselfde mens op die verhoog en by die huis. Ek wil graag glo dat ek ook dieselfde mens is. Ek dra nie maskers op die verhoog nie.”

Soos met enige beroep is daar ook uitdagings.

“In die jare wat ek in die sang- en Woordbediening is, het ek nog nooit ʼn agent gehad nie,” sê sy. “Ek glo dat die mense daarvan hou om direk met my kontak te maak, maar dit het sy uitdagings. Om kop te hou en jaar na jaar geloof te hê dat jou dagboek vol sal wees, is soms senutergend. Gedurende 2020 en 2021 het alle sangers geleer om super dankbaar vir ʼn vol dagboek te wees; ʼn mens moet dit nooit ooit as vanselfsprekend aanvaar nie.”

Sy is baie dankbaar dat sy, deur God se genade, dit kon regkry om vir amper drie dekades haar talent te kon uitleef.

Die verhoog word groter

Tania en Wimpie op hul troudag op 27 April 1996. (Foto verskaf)

Verskeie CD’s pryk reeds met Tania se naam daarop. Dit is egter nie waar haar talent eindig nie. Tania plaas ook graag haar hand op papier om haar eie lirieke neer te pen.

Haar talente strek verder as net musiek. Sy tree ook op as motiveringspreker, het al TV-programme aangebied en kan ook skrywer op haar CV plaas. Om haar woorde in wit en swart te sien en vir ander om daarby te baat en dit te geniet, is vir haar baie verrykend. Iets wat haar baie na aan die hart lê, is haar geestelike roman, Jessie, wat vanjaar verskyn het en nog vars op die rak is.

“Dit was ʼn droom wat ek vir baie jare begrawe het,” sê sy. “Alhoewel ek twee inspirasieboeke op die rak het, was dit regtig vreesaanjaend om my eerste roman te publiseer. Dit is egter op dié stadium die lekkerste lekker, veral as ek onverwags positiewe terugvoer ontvang.

“Ek is kliphard besig om my tweede roman te voltooi,” verklap sy. “Die skryfgogga het my behoorlik gebyt. Natuurlik sal dit my eerste liefde bly om die mense van Suid-Afrika met sang en Woord te bedien, maar ek glo dat my skryfwerk ʼn verlengstuk van my bediening kan wees.”

As stigter van die Annebelstigting, reik Tania ook na jonger meisies uit deur persoonlike higiëniese produkte aan hulle te verskaf. Die stigting bestaan reeds vyftien jaar.

“Alhoewel die dogters van die Annebelstigting meestal ma’s en pa’s het, is hulle omstandighede van so aard dat hulle ouers nie aan hulle kan voorsien wat hulle dalk graag sou wou nie,” vertel sy. “Ek is dankbaar om te sien dat daar al hoe meer mense is wat besef hoe belangrik persoonlike higiëniese produkte vir veral meisies is. Ek wil graag glo dat die Annebelstigting die voorloper was en dat ons mense intens bewus gemaak het van hierdie ontsettende behoefte.”

Dit is vir Tania belangrik om ʼn persoonlike pad met elke meisie te stap.

“Daar is nou honderde Annebelmeisies wat al getroud en self mammas is, wat nou jare later betrokke raak by die Annebelstigting en weer ander meisies help. Dit sê vir my ons doen iets reg.”

Behalwe vir die produkte, word daar ook maandeliks gratis basiese afrondingsklasse vir die meisies aangebied. “Ons glo ʼn produk alleen gaan nie ʼn verskil maak nie.”

As sy vir vandag se jongmeisies ʼn boodskap kon gee, sou sy vir hulle wou sê dat hulle enigiets kan word.

“Hulle hoor heeldag hulle is net so sterk en slim soos seuns en natuurlik is hulle ongelooflik sterk en kan hul enige beroep beoefen, maar daar is ook niks verkeerd daarmee om te droom om eendag ʼn ma of iemand se vrou te wees nie,” sê sy. “God het ons dames so uniek geskape en ons mag dit vier deur sag en vroulik te wees. Soms lê ons grootste krag juis in ons vroulikheid.”

ʼn Ander storie

Die Strauss-gesin op hul dogter se troue in 2019; Vlnr: Wimpie, Quintin Grobbelaar (skoonseun), Tahlita (dogter), Tania en Wihan (seun). (Foto verskaf)

As ma van twee, kan Tania soos baie ander getuig dat ouerskap iets is wat beslis nie met ʼn handleiding gebeur nie. Ouerskap is iets wat sy baie versigtig aanpak.

“Ek het eendag hierdie mooi sin gehoor: “ʼn Ma is net so gelukkig soos haar ongelukkigste kind”. “Dit is só waar,” sê sy. “Jy kan tien kinders hê en elkeen gaan verskil. Ons gaan foute maak, maar ek dink die belangrikste is om vroeg te besef dat kinders eerder na ons kyk as wat hulle ons hoor.”

Vir Tania is die mees bevredigende deel van ma-wees om die liefde wat sy gee terug te ontvang. Uitdagings is daar natuurlik ook.

“Die grootste uitdaging is wanneer jy dink jy het baie goeie raad gegee en hulle doen nog steeds wat hulle dink die beste is. Dan moet jy diep asemhaal en besef jy kan nie namens jou kinders leef of foute maak nie. En soms verras hulle jou en is hulle besluit beter as joune. Dit is nogal lekker, want dit sê jy vaar darem nie te sleg op die ouerskapfront nie.”

As ma beskou sy haar grootste prestasie die feit dat sy en haar man, Wimpie, twee ongelooflike kinders sover groot gemaak het.

“Ja, ek is trots op hulle prestasies, maar die meeste op hulle karakter en die feit dat hulle die Here so verskriklik liefhet.”

Aangesien moederskap haar na aan die hart lê, het sy twee inspirasieboeke spesiaal vir jong ma’s geskryf. In die eerste boek, Skop jou skoene uit, moedig sy ma’s aan om hulle kinders te geniet ten spyte van chaos, want rowwe tye gaan ook verby.

“Die tema van my tweede boek is: haal asem!” sê sy. “Dit is my gunsteling-stukkie raad vir ma’s wat oorweldig voel. Haal asem en onthou jy is nie alleen nie.”

Tania Strauss wil elke moeder herinner sy is nooit alleen op die reis van ouerskap nie, maak nie saak in watter fase jy jouself bevind nie. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.