Uittreksel: Onthou!

Smart in die hospitaal
Mevrou Anna Botha,
Breipaal, Smithfield.

Ek het ook besluit om van my bittere lydenskelk te vertel.

Op 4 Oktober 1901 is ek met my vyf kinders gevange geneem. Toe ons ʼn klein afstand van ons huis was, bars my vyfjarige seuntjie in trane uit. “Ag, Mammie”, sê hy, “sal ons dan nie almal in die kamp doodgaan nie?” Dit was vir my te veel! Op die oomblik kon ek hom nie troos nie, maar later het ek aan hom gesê: “My kind, ons moet nou die liewe Heer om troos en krag vra. As dit nie sy wil is nie, dan sal ons nie sterf nie.”

Op 6 Oktober kom ons vermoeid en half dood van die honger in die kamp op Bethulie aan. Iemand slaan met ʼn stok op my tent. Ek vra wat dit beteken en kry as antwoord dat ek vleis moes gaan haal. Ek het na die groot tent gegaan; en toe ek by die deur kom slaan die damp van bederfde vleis in my neus op. Ag, wat moes ek sien! Al die skaapvleis was vrot, vol maaiers en wurms. In my tent het ek die vleis goed deurgekyk, maar het nie ʼn enkele stukkie wat bruikbaar was, gekry nie. So het dit agt dae lank geduur voordat ek ʼn stukkie gekry het wat ek kon kook. Toe ek dit klaargemaak het, was dit oneetbaar van die dipstof.

Dieselfde dag is my oudste dogtertjie hospitaal toe gestuur, en dit het vier maande en vyftien dae geduur voordat sy weer teruggekom het. Intussen het ek en al my kinders siek geword. Die dokter het gesê dat ek hospitaal toe moes gaan. Ek kon geen mens kry by wie ek die ander kinders kon laat nie. Met my sterwende kind, amper nakend, is ek na die ander kant van die draadheining gebring. Daar was ek ʼn dag en ʼn half en toe sterf my kind. Dink tog hoe swaar dit vir my was! Ek was so siek dat ek my oë byna nie kon oophou nie en daar was niemand wat my kon help nie. Hoe swaar was dit nie om haar ogies toe te druk nie, haar uit te trek en die lykie toe te speld nie! Dit was nie in eie krag dat ek dit kon doen nie, maar in die krag van die liewe Heer.

Toe alles klaar was moes ek by die draadheining staan om my seuntjie van nege jaar te roep. Daar kom toe een van die “hensoppers”, en hy neem die lykie van my. Ek gee hom toe drie sjielings met die versoek om ʼn kassie te koop en ʼn doodkissie te maak.

Om eenuur is die lykie van my liefling weggedra, en om twee-uur is ʼn paar lyke begrawe, want dit het tweemaal per dag plaasgevind. Ek het gemeen dat die lykie eers die volgende dag begrawe sou word, maar die polisiedienaar kom terug, gee my die geld terug en sê dat die kommandant opdrag gegee het dat my kind dadelik begrawe moes word, want sy is aan ʼn besmetlike siekte dood en mag nie oorlê nie. “Ek het beloof”, sê die man, “dat ek heeltemal alleen die lykie sou begrawe net so gou die kissie klaar was, want ek het vir jou jammer gevoel, maar die kommandant het geweier en wou nie ʼn minuut langer wag nie.”

Ek was rasend van droefheid, maar dit het nie gehelp nie. Die lykie, wat vir my so dierbaar was, moes in ʼn kakiekombers in die graffie gelê word! En my kindjie is aan kroep dood! Gedurende die siekte het ek nooit een nag ʼn liggie gehad nie!

Dit was toe Desember, en ses dae ná die dood van my dogtertjie word die seuntjie van vyf jaar oud siek. Ek moes dit rapporteer, en die volgende dag kom die dokter en ʼn verpleegster. Hy moes sy tongetjie uitsteek. “Ja, die kind moet hospitaal toe.”

Amper elkeen wat na die hospitaal gedra is, het ʼn prooi van die dood geword. Ek bars hard in trane uit; ek moes al een kindjie afgee en ʼn tweede lê in die hospitaal. “Ag, dokter!” smeek ek, “laat my kind tog maar by my bly.” Al my gesoebat het nie gehelp nie. Dit was nie ʼn uur later nie toe die ambulanswa daar staan.

Toe my seuntjie sien dat hy hospitaal toe moes gaan, skiet sy ogies vol trane. “Ag, Mammie, sal ek dan nie daar doodgaan nie?” vra hy vir my. Ek het self behoefte aan troos gehad, aangesien ek siek was en net ter wille van my kinders op die been gebly het, maar so goed soos ek kon, het ek hom getroos. So is hy uitgedra; weens swakheid en verdriet kon ek hom amper nie volg nie.

By my in die tent het twee kinders siek gelê en twee in die hospitaal. Tweemaal in die week mag ek hulle gaan besoek. Die eerste kind was net vel en been – heeltemal uitgeteer. Ná ʼn maand kon sy na die tent terugkom; sy was so swak dat ek haar soos ʼn babatjie moes versorg.

Die seuntjie het ook beter geword. Nog ʼn week het verloop, en toe het hulle gesê dat ek sy kleertjies na die hospitaal moes bring. Die koors het hom verlaat, en hy het begin eetlus kry. Hy het kos gevra, maar dié het hy nie gekry nie, net melk met brandewyn, en dit kon hy nie drink nie.

Toe hy vyf dae op was, kry hy kinkhoes en daarna inflammasie in die longe. Hy het al swakker en swakker geword, en sy einde het genader. Hy het honger gehad en kon nie melk drink nie. Wanneer ek hom vra, hoe dit met hom gaan, was sy antwoord: “Mammie, beter, maar ek het tog so honger!” Sy laaste woord was “[Ek het] honger”.

Toe hy gesterf het, was hy ses jaar oud, maar die lykie was nie [eens] so groot soos dié van ʼn kind van twee jaar nie, net langer. Ek kon die tandjies deur die wangvelletjies tel. As ek my hand op die buikie lê, kon ek die ruggraat voel.

Geen tong of pen kan die bittere smart wat ons moes verduur, beskryf nie! As daar een moeder is wat van daardie hospitaal weet, dan is dit ek! Vyf maande en drie-en-twintig dae het ek dag na dag na die hospitaal gegaan. En dan het ons ook nie die voorreg gehad om vry te mag ingaan nie. Daar was ʼn wit streep getrek en daar moes ons staan. Daar het ek meermale drie keer per dag gestaan om te hoor hoe dit met my kinders gaan. En nou wil hulle hê ons moet vergeet dat die sorg daar nie goed was nie! Ek kan praat van die “goeie sorg.” Ek het self die smeekstemme vir kos of water gehoor en die behandeling gesien. My dierbare kind is dood van verwaarlosing en van honger.

(Uittreksel uit Onthou! Kronieke van vroue- en kinderlyding, 1899-1902 deur AWG Raath en Elria Wessels soos dit verskyn op bl. 110-111. Onthou! word uitgegee deur Kraal-Uitgewers. Klik hier om meer inligting oor die boek te bekom.)

Was jou voorouers in die konsentrasiekampe? Klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae