Hoofstuk 15: Van Dublin na Soweto
Bladsy 216
Ons het nie geweet wat om te verwag nie. Dit was interessant om te sien Soweto lyk maar soos enige ander woonbuurt waar dinge nie altyd baie goed gegaan het nie. ‘n Mens kon sien die mense daar het ‘n swaarder lewe as die meeste van ons, maar alles was baie netjies – anders as baie ander dele van Johannesburg, soos die middestad of Doornfontein.
En die stadion was fantasties. Die geriewe was net so goed soos op Loftus. Ons het foto’s geneem en soos toeriste gevoel in ons eie land. Dit was ‘n heel ander en nuwe ervaring en ons het daarna begin uitsien om in Orlando te speel.
Die span was ontspanne en gefokus. Niks sou ons stuit om die Super 14-eindstryd die derde keer in vier jaar te haal nie. Dit was natuurlik sleg om naby Loftus te kom en nie rye mense te sien wat kom kaartjies koop het nie, maar die opwinding van ‘n nuwe ervaring het daarvoor vergoed.
Ons was egter nie seker of ons ondersteuners sou opdaag nie. Maar toe ons die Saterdag teruggaan Soweto toe vir die wedstryd, was ons stomgeslaan. Derduisende Bulls-ondersteuners het opgeruk om ons te kom ondersteun. Mense het sommer langs die strate stilgehou en braaivleisvure aangesteek. Blou vlae het oral gewapper.
Wit mense en swart mense het saam in sjebiens gesit en bier drink. Soos in 1995 het wildvreemde mense mekaar as Suid-Afrikaners omarm. Ek het besef: net sport kan so iets doen.
Lees nog ‘n uittreksel hier.
Vir meer inligting oor die boek klik hier.