FAK vier 99 jaar van Afrikaans in styl

Die FAK het op 8 Mei 2024 Afrikaans se 99ste bestaansjaar as amptelike landstaal saam met die Afrikaanse gemeenskap gevier. (Foto: Verskaf)

“Afrikaans is soos ʼn klomp klein stroompies wat uit verskeie plekke saamgevloei het en ʼn magtige rivier hiér aan die suidpunt van Afrika geword het.”

Só het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Woensdag (8 Mei) ter viering van Afrikaans se 99ste bestaansjaar as amptelike landstaal gesê.

Die geleentheid, wat by die Voortrekkermonument in Pretoria plaasgevind het, is deur die FAK aangebied, en verskeie ander Afrikaanse organisasies, onder wie Maroela Media en die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA), het dit bygewoon.

Die FAK is deel van Afrikaans Amptelik 100, ʼn landswye inisiatief wat in die aanloop tot die eeufeesvieringe van Afrikaans in 2025 van stapel gestuur is.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). (Foto: Verskaf)

“Afrikaans is ʼn taal van mense wat jare gelede verklaar het ‘ons hoort hier (in Suid-Afrika), en dit is hier waar ons ʼn toekoms wil bou’. Vandag sê die FAK weereens ‘ons is hier om die toekoms van ons taal te verseker’.”

Langner het tydens sy toespraak hulde aan taalpioniers gebring wat Afrikaans help ontwikkel het tot die taal wat dit vandag is.

Volgens Barry Müller, die FAK se hoof van nasionale projekte, is 8 Mei ʼn datum wat elke jaar getrou gevier moet word.

“Afrikaans is die lewensbloed van die FAK én van alle Afrikaanssprekendes. Daarom glo ek dat ons ʼn verantwoordelikheid het om jaarin en jaaruit hierdie gebeurtenis te gedenk. Dit natuurlik uit dankbaarheid vir ʼn taal wat ons ons eie kan noem,” meen hy.

Jannie du Toit vier Afrikaans se 99ste verjaarsdag saam met die FAK. (Foto: Verskaf)

Die FAK beplan verskeie projekte om Afrikaans in al sy fasette te vier en uit te bou. “Ons gaan later ook dan ʼn splinternuwe monument vir Afrikaans ontwerp en hier op die Voortrekkermonumentterrein onthul.”

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, het ook die geleentheid bygewoon en sê dit is vir haar ʼn eer dat dié mediahuis deel van so ʼn groot projek kan wees.

“Afrikaans is vir Maroela Media nie net ʼn taal waarin ons werk nie, maar ʼn deel van wie ons is. Ons staan vandag hier saam met die FAK en ander organisasies in nederigheid om ʼn taal te vier wat ons ons lewens gegee het.

“Maroela is nou maar 13 jaar jonk, en ons besef vandag opnuut dat dit wat ons elke dag doen ten volle te danke aan Afrikaans is.”

Die FAK het op 8 Mei 2024 Afrikaans se 99ste bestaansjaar as amptelike landstaal gevier. (Foto: Verskaf)

Vir Lombaard is Afrikaans ʼn wonderwerk, daarom was dit vir haar ook ʼn hoogtepunt om deel van die geleentheid te kon wees.

“Om in 99 jaar te ontwikkel van enkele woorde tot ʼn taal wat in al die hooffunksies gebruik word, is ongelooflik. Dit laat mens weer opnuut dink ‘wat sou ek sonder Afrikaans wees?’.”

Norman Halder, ondervoorsitter van die GHA, beskou dit as ʼn voorreg om so ʼn “monumentale oomblik” saam met die FAK te vier. Die GHA is ʼn kultuurorganisasie wat die afgelope 30 jaar al hard daaraan werk om Afrikaans as taal uit te bou, en hulle pak gereeld projekte saam met die FAK aan.

“Om deel te kan wees van hierdie projek is werklik ʼn riem onder die hart omdat dit wys hoe ver nie net ons taal gekom het nie, maar ook hoe ons kultuurorganisasies gegroei het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.