Gedig: Die eerste nag

Argieffoto (Foto: Sally Wynn/Pixabay)

Elisabeth Eybers (1915 – 2007)

Hoe veilig en stil is my kindjie se slaap,
die tastende handjies so vreedsaam gevou,
die soekende mondjie geslote en soet,
die ogies ‘n skemering van blank en blou.

Wat sal haar moeder nou vir haar bid
waar sy slaap in haar wiegie, so warm en wit?

Watter geheim sal sy vra dat haar kind
in die skadu van latere nagte mag vind?

Wat, in die nag wat eensaam is?
– Dat skoonheid gebore word uit gemis.

Wat, in die nag van kwelling en pyn?
– Dat die môrester dan die suiwerste skyn.

Wat, in die nag van liefdeslus?
– Dat teerheid sterker as hartstog is.

Wat, in die nag van barensnood?
– Dat die lewe magtiger is as die dood.

Wat, in die nag wat die laaste sal wees?
– Dat wie die Lewe het niks hoef te vrees.

Want elkeen aan wie die nag dit verklaar
sal wysheid dieper as kennis bewaar.

Hoe veilig is nou nog my kindjie se slaap,
die tastende handjies so vreedsaam gevou,
die soekende mondjie geslote en soet,
die ogies ‘n skemering van blank en blou…

O duistere Nag, wees goed vir my kind
later, wanneer jy haar wakker vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.