Gedig: Die huis waar ek woon

Argieffoto (Pixabay)

Argieffoto (Pixabay)

William Rowland

my huis het tien vensters en twee deure
wat honger hande na die wêreld reik
en binne woon daar twee verbanne geeste wat saam
die dag en die nag tot ʼn bitter heuning meng
en as broers die gekraakte spieël bepeins

die een wat die nagwaak waarneem
is ‘n heilige wat gevaarlike ure opeet
want snags is die tuin om my huis ʼn geriffelde bladsy
waar woorde onheilspellend ritsel
en vreemde ideologieë bekoor
soos gebreekte blomme wat die naglug
met hul doodsgeur poeier

maar bedags – ja bedags is dit anders
as die môreklanke soos skoenlappers geel klokkies wegvlieg
dan is die voëls dartelende sirkels
wat sing omdat die son hulle hart stukkend kap
– al is die struike se gesigte natgehuil

ek moet onthou:
elke dag is ‘n ronde blou klippie
wat ‘n seuntjie soos ‘n juweel in sy sak vertroetel

o, ek wens ek kon die blare se musiek volledig betas
of die donderende see met my tong besoek
of die blou lug in my handpalm hou

maar ek is ‘n paradysvoël
in ‘n koperkou sonder sleutel
ek speel op my silwerfluit
maar net my note sal die sagte reëndruppels sien.

(William Rowland. Tafelberg, 1974.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Eliza-beth ·

Hoe kan ek in my onbeholpe woorde beskryf hoe aangrypend mooi die Afrikaans in hierdie gedig is? “…. as die moreklanke soos skoenlappers geel klokkies wegvlieg dan is die voëls dartelende sirkels wat sing omdat die son hulle hart stukkend kap … ” Ag, en al die res ook – alles! Pragtig! Dankie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.