Gedig: Die tante

Argieffoto (Foto: A_Werdan, Pixabay)

Argieffoto (Foto: A_Werdan, Pixabay)

Barend J Toerien (1921 – 2009)

Die tante met die bene
leun oor die tuinhekkie, die ene
oë vir die straatgebeure, met arms wat oor die hekkiekrulle
peul en haar wange stut, soos ʼn kupidon in barokpaleise
of kerkgeboue in Wene.

Die tante het ʼn slag met plante;
die hele kontrei soek in vleie en op rante
blomme vir haar onversaagbare hande wat hul brei en boet-
seer (volgens sketse in ʼn boek) tot reuserangskikkings,
voorportaal- en kerk-versiersels, muurborduursels, tafel-
rangskikkings vir ʼn deftige onthaal, tot heel klein skep-
pinge vir ʼn siekbed van kortsteel-krisante.

Sy golf in haar geblomde rok
hoewel sy calvinisties soos ʼn stok
orent staan, vierkantig vasgeplant, afkeurend nie-raaksien die
bondels bruinmense (soms aangeklam) wat kleef om
winkelstoepe (háár “jong” spit in die tuin), uitpeulend uit
haar stywe borstrok.

Sy staar my agterna,
die tante sonder weerga
soos al die tantes van die dorp, keiserinne, despote, gewoond
aan organiseer (hul mans, mekaar), en uitdeel (resepte,
patrone, tuinvrugte, sapsoene, bevele, Spit hier! Skrop
daar!), vrou van Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.