Die volgende gedig is gekies vir publikasie in die AVBOB Poësiebiblioteek en word heruitgegee met die toestemming van die AVBOB Poësieprojek . Om dié biblioteek van meer as 18 000 gedigte in al 11 landstale te besigtig, klik hier.
“Kindjie klein” deur Werner Wehmeyer
jy woel so tussen rib en spier
oefen lynskoppe af en toe
dan golf jy teen my innerlike
tot die moeg jou sag laat slaap
ek weet dis nog net die begin
die pad nog lank my klein lam
terwyl jy sonar knipoog vir my
sing ek my moederlied vir jou
wie jy is en miskien gaan wees
lê in holtes waar ek jou bewaar
tot jy jou weg tonnel na my arms
jou asem in my gesig kom blaas
en so kalender ek elke dag
wetende jou lewe kom my vul
elke dag sal ons mekaar leer ken
tot een se vervaldatum aanbreek
- Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red