Louis Esterhuizen (Geb. 1955)
By die ingang, uitgang, sygang –
oraloor, by die voorkant
in, sydelings of agter uit, as toegang
tot al die ruimtes van gang:
die deur.
En die deur open op vertrekke
wat uitloop op die oopgelate deure
van agterkamers en ons loop
deur deure van hout, staal of glas –
enkeldeure, dubbeldeure, skuifdeure
of geheime deure, verbode deure
sonder sleutel of greep.
Uiteindelik, wanneer die stok
daarteen tik, die deur aan die bopunt
wat oopkraak, die deur van jou
drom, die deur wat almal vrylaat
die deur wat inperk, toesluit, bewaar –
gegraveerde deure, toegespykerde deure
traliehekke (deursigtig soos deure).
Aan die einde van die tyd
die deur
oopgelaat vir die nag
om sterre binne te laat, die deur
wat van jóú ʼn deur maak, smal of wyd.
En ek loop jou deur of loop
deur jou na die oorkant, anderkant
dit wat moontlik is verby –
my oomblik met jou in hierdie
tydskarnier
wat uiteraard eensaam is.
Soos ʼn deur.