Gedig: Oujaarsaand

Die volgende gedig verskyn in Dit is nie ʼn boek nie, ʼn versameling skaterlagrympies deur Jaco Jacobs. Dit word met vergunning van Pan Macmillan Suid-Afrika op Maroela Media gepubliseer.

“Oujaarsaand” deur Jaco Jacobs

Hier op die duvet lê ons heelaand en wag.
Vanaand gaan ons wakker bly tot middernag.
Ma en Pa kuier buite, terwyl ek en my broer
ʼn fliek lê en kyk op die sitkamervloer.
Dit is nou kwart voor tien. My oë voel swaar,
maar vanjaar wag ons wraggies tót Nuwejaar.
Vanjaar gaan ons ook, net soos Ma en Pa,
die sekondes aftel en dan: “Hiep-hiep hoera!”
Die fliek is vervelig, my broer gee ʼn gaap …
en wraggies, kyk – daar is hy vas aan die slaap!
Ek skud aan sy skouer en stamp dan sy sy,
ek blaas in sy oor om hom wakker te kry.
Gmf! Ag nou toe dan, slaap maar gerus.
Dit is sy saak as hy die groot aftelling mis!
Al moet ek ʼn hele fles koffie uitdrink,
myself blou knyp of aan ʼn grap probeer dink,
ék gaan nie slaap nie, want ék gaan beslis nie
die eerste minuut van die nuwe jaar mis nie.
Ek gaan nie opgee nie, al is ek hoé vaak,
maar dalk … net my oë … ʼn rukkie toemaak …

  • Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red
  • Dit is nie ʼn boek nie kos R300 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.