Skrywers van kantlynaantekeninge

daniel-hugo.jpg

Daniel Hugo (foto verskaf).

Die bladspieël van ʼn boek bestaan uit die gedrukte deel met ʼn blanko raam daaromheen, die kantlyn. Daardie onbedrukte ruimte bied al eeue lank lesers die kans om hul reaksies neer te skryf.

Hulle kyk in die spieël van die teks en herken hul eie gevoelens en gedagtes daarin – of juis nie. So ontstaan ʼn dialoog in die marge wat weer deur ʼn derde leser met of sonder leedvermaak geniet kan word.

Dit is presies wat gebeur in Billy Collins se gedig “Marginalia”. Dit kom uit sy bundel Picnic, Lightning van 1998. Hy onderskei vyf tipes skrywers van sulke kantlynaantekeninge. Die eerste is dié wat woedend uitbars:

Sometimes the notes are ferocious,
skirmishes against the author
raging along the borders of every page
in tiny black script.

Die volgende is flegmatieser van aard:

Other comments are more offhand, dismissive –
“Nonsense.” “Please!” “HA!!” –
that kind of thing.

Die derde soort is die beskeie student:

Students are more modest
needing to leave only their splayed footprints
along the shore of the page.
One scrawls “Metaphor” next to a stanza of Eliot’s.

En dan die uitbundiges:

Or they are fans who cheer from the empty bleachers,
hands cupped around their mouths.
“Absolutely,” they shout
to Duns Scotus and James Baldwin.
“Yes.” “Bull’s-eye.” “My man!”
Check marks, asterisks, and exclamation points
rain down along the sidelines.

Laastens wys Collins op die Middeleeuse monnike wat gewyde tekste pynlik noukeurig moes kopieer:

Even Irish monks in their cold scriptoria
jotted along the borders of the Gospels
brief asides about the pains of copying,
a bird singing near their window,
or the sunlight that illuminated their page –
anonymous men catching a ride into the future
on a vessel more lasting than themselves.

Dit is presies hoe die oudste Nederlandse gedig tot stand gekom het – enkele woorde deur ʼn monnik op ʼn reeds beskrewe perkament in 800 n.C. neergekrabbel. Hy kyk by die kloostervenster uit, dit is lente en die voëls doen wat daardie tyd van die jaar van hulle verwag word:

hebban olla vogala nestas hagunnan
hinase hic enda thu
wat unbidan we nu.

Moontlik is die monnik ook verlief, maar sy selibaatbelofte weerhou hom van natuurlike nesskropgedrag. Vandaar sy versugting: “Al die voëls het neste begin, behalwe ek en jy. Waarvoor wag ons nog?”

So kan ʼn hele literatuur as ʼn kantlynaantekening ontstaan. Inderwaarheid was dit die begin van twee literature: Nederlands én Afrikaans.

Danie Marais het al in die openbaar sy bewondering vir die digkuns van Billy Collins uitgespreek.

Daarom is dit nie vreemd nie dat daar in sy tweede digbundel, Al is die maan ʼn misverstand van 2009, ʼn soortgelyke gedig staan waarin ʼn student die bekende literatore MSB Kritzinger (1896-1977) en Gerrit Dekker (1897-1973) van destyds in die kantlyn napraat:

Die gedweë “Winternag”

Ek het onlangs die Versamelde gedigte van Eugène Marais
vir R3 in ʼn charity shop gekoop.
Voor in die boek staan:
“Jacobus Viljoen 1942”
Die hele boek wemel van Jacobus se aantekeninge.

By “Winternag” staan: “Kritzinger noem dit ʼn klassieke gedig.
“Pragtig – treffende beeldspraak!”
“Groot taaljuweel, omdat die ‘Winternag’
vir hom ʼn simbool
van die lye van sy volk is.
Dekker sê so!!!”
“Droefgeestige natuurtoneel wat vir ons
die stemming vertolk van die smart, die ellende van Die Oorlog.”

Jacobus, jy herinner my hoe ons op skool
in die naam van Letterkunde
gedigte se vlerke moes knip;
hoe ons strofes hardhandig moes uitlê
in die klankdigte kamers
van voorgeskrewe simbole en vierkantige lesse –
in ʼn reël van Robert Bridges se “London Snow”
(“Hiding difference, making unevenness even”)
het een van my onderwysers die Kommunisme gesien.

Jou netjiese gevolgtrekkings, Jacobus,
kleur die eensaamheid van “Winternag”
vir my ʼn skadu kouer.

Jy laat my besef
begrip en onbegrip is
twee ewe onskuldige vorms
van magteloosheid:
tyd is nie ál vyand<
van skoonheid en verdriet nie –
mense lees of ly nie
sonder die hoop op dieper betekenis nie.

Maar in die ewige “sterling en skade”
word verlate vertolk as verlate;
simbole versuip in eensaamheid
en die enkeling en sy rou hart strek steeds
ligjare ver.

“Winternag” is doodgewoon ʼn liriese natuurvers met ʼn weemoedige ondertoon, waaraan die ou literatore en skoolmeesters ten alle koste ʼn dieper betekenis wou heg. Dit móés eenvoudig simbolies wees van die Afrikanervolk se lyding tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). Dekker verwoord dit só in sy Afrikaanse literatuurgeskiedenis, waarvan die eerste uitgawe in 1934 verskyn het: “In hierdie verse (sy Versamelde gedigte van 1925 – DH), waarmee die Afrikaanse digkuns ingelui word, is Marais die tolk van die volksiel, gee hy as’t ware verligting aan die smart van daardie volksiel deur uiting daaraan te gee. Dit het hy veral gedoen in sy ‘Winternag’, een van die juweeltjies van ons poësie, wat reeds in 1905 in Land en Volk verskyn het. In hierdie sobere, suiwer gedig, waardeur die skraal windjie van die Hoëveld kla, het hy in sy eie natuurstemming die smart en lyde van sy volk gesimboliseer.”

Dit is interessant dat die entoesiastiese student, Jacobus Viljoen, volgens Danie Marais se gedig Dekker se frase “een van die juweeltjies van ons poësie” in ʼn “groot taaljuweel” verander. Of het hy bloot die grootspraak van sy dosent oorgeneem?

Die titel “Die gedweë ‘Winternag’” eggo ʼn geykte versreël uit “Die ossewa” van Jan FE Celliers. Die eerste strofe lui soos volg:

Die osse stap aan deur die stowwe,
geduldig, gedienstig, gedwee;
die jukke, al drukkend hul skowwe –
hul dra dit getroos en tevree.

“Winternag” is dus ʼn gedig wat met die verloop van tyd ewe gedwee die juk van allerlei swaarwigtige interpretasies moes verduur.

Volgens Danie Marais kortwiek hierdie soort simboliserende interpretasie juis die reikwydte en ware betekenis van gedigte; dit knip die poësie se vlerke. ʼn Gedig oor “skoonheid en verdriet” moet per se ʼn nasionalistiese boodskap uitdra. Tog het hy begrip daarvoor, want

mense lees of ly nie
sonder die hoop op dieper betekenis nie.

En met dié uitspraak is ons terug by Billy Collins. In sy gedig “Introduction to Poetry” (uit die bundel The Apple that Astonished Paris, 1988) kla hy oor sy studente wat wil hê dat ʼn gedig moet iets “bely”, iets verborge en diep moet bevat. Hulle is nie tevrede met die klank en die glinsterende oppervlak van die vers nie:

I ask them to take a poem
and hold it up to the light
like a color slide

or press an ear against its hive.

I say drop a mouse into a poem
and watch him probe his way out,

or walk inside the poem’s room
and feel the walls for a light switch.

I want them to waterski
across the surface of a poem
waving at the author’s name on the shore.

But all they want to do
is tie the poem to a chair with rope
and torture a confession out of it.

They begin beating it with a hose
to find out what it really means.

ʼn Boek se blad weerspieël die sigbare en as daardie sigbare die lettertekens van ʼn gedig is, is dit nie nodig om na duister betekenisse te soek, asof elke woord ʼn skadu saamsleep wat ontsyfer moet word nie. Wat die vers te sê het, staan daar oop en bloot:

so wyd as die Heer se genade
lê die velde in sterling en skade

en:

O treurig die wysie
op die ooswind se maat
soos die lied van ʼn meisie
in haar liefde verlaat.

Danie Marais wys daarop dat die individu se eensaamheid en verlatenheid veel intenser tot die leser behoort te spreek as die smart wat ʼn “volksiel” sou kon ervaar:

Maar in die ewige “sterling en skade”
word verlate vertolk as verlate;
simbole versuip in eensaamheid
en die enkeling en sy rou hart strek steeds
ligjare ver.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.