Gesogte ATKV-Woordveertjies vir Harry Kalmer, Chanette Paul en Chris Karsten

Harry Kalmer (Foto: Facebook)

Die ATKV-Woordveertjies, wat reeds langer as ’n dekade uitmuntende skrywers, digters en dramaturge bekroon, het vanjaar ’n splinternuwe baadjie aangetrek met die aanlyn bekendmaking van die wenners. Wenners is van 19 tot 23 Oktober op die ATKV se Facebook-blad aangekondig. Hier volg die lys van wenners.

ATKV-prosaprys
Die ontslape skrywer Harry Kalmer is postuum vereer vir In ʼn land sonder voëls.

In ’n land sonder voëls is ’n avontuurverhaal, ’n aksieverhaal, ’n intieme liefdesverhaal en uiteindelik ’n aangrypende, gestroopte en wreed eerlike geestelike reis van ’n skrywer wat vir oulaas die verlede wil opteken, maar moet vrede maak met verlies en sy brose self.

“Die teks is ’n kragtoer. Kalmer besin oor ’n bestaan/oorlewing in dié donkerwordende wêreld deur die swaksiende ‘oë’ van sy hoofkarakter. Die leser kan nie anders as om Kalmer, die skrywer, in die teks in te lees nie,” meen die keurders. Kalmer was reeds terminaal toe die teks voltooi is.

Ander benoemdes in die kategorie was Lize Albertyn-du Toit vir Die kinders van Spookwerwe en Jan van Tonder vir Die verevrou. Die keurders in die kategorie was Elmari Rautenbach, Riana Scheepers en Kirby van der Merwe.

Chanette-Paul-deur-Carine-Duprez

Chanette Paul (Foto: Carine DuPprez)

Prys vir romanses
Die ATKV-Woordveertjie vir Romanses is aan Dina Botha toegeken vir Halsoorkop verlief wat by Lapa Uitgewers se Romanza-afdeling verskyn. Chanette Paul het die prys vir liefdesromans gewen vir Lira, die eerste boek in haar Vywervrou-trilogie.

Die keurders skryf oor Lira: “Die roman voldoen aan elke vereiste van ’n lekkerlees-liefdesroman. Daar is genoeg romantiek, net die regte hoeveelheid ‘uitgestelde begeerte’, ’n goeie skeut spanning, hope humor en interessante, uiteenlopende karakters.”

Carol-Ann Alexander, Naomi Bruwer en Riette Rust het die romanses beoordeel en Shireen Crotz, Roela Hattingh en Ilse Salzwedel die afdeling vir liefdesromans.

Prys vir poësie
Marlise Joubert wen die prys vir haar bundel Grondwater. Diana Ferrus, Charl-Pierre Naudé en Bernard Odendaal was die keurders. Ander benoemdes in die poësiekategorie was Loftus Marais vir Jan, Piet, Koos en Jakob en Hein Viljoen vir Brisant.

Prys vir spanningslektuur
Anderman se vrou deur Chris Karsten het die prys vir spanningslektuur gewen. Die verhaal is ʼn sielkundige riller wat ondersoek instel na die onsigbare motiewe wat een mens dryf om ’n ander onvoorstelbare leed aan te doen; maar dan is dit ook ’n niesentimentele liefdesverhaal wat die onverwagte vreugde van ’n tweede kans vier. Dit is ’n roman wat inlig én verras.

Die keurders skryf: “Die skrywer skep spanning vanaf die eerste bladsy tot aan die einde van die boek. Dit is veral verfrissend dat die storie (met sy tentakels in apartheid) so heen-en-weer tussen Kanada en Suid-Afrika pendel.”

Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen het dié kategorie beoordeel.

Prys vir ʼn dramateks
Opdrifsel deur Phillip Rademeyer, wat ook die bekende teaterproduksie Klippe wat val geskryf en geregisseer het, wen vanjaar die dramaprys. Die keurders was Marina Griebenow, Theo Kemp en Ilse Oppelt.

Ander benoemdes in die kategorie was Nicola Hanekom vir Verwyt en Wessel Pretorius vir Wilde-als.

Carel van der Merwe (Foto: Verskaf)

Niefiksieprys
Die niefiksieprys word toegeken aan Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen wat deur Carel van der Merwe geskryf en deur Protea Boekhuis uitgegee is. Die keurders was Jean Meiring, Herman Wasserman en Bettina Wyngaard.

Dié boek handel oor die buitengewone lewe en nalatenskap van Viljoen – ’n held uit die Anglo-Boereoorlog met ’n flambojante én twyfelagtige geskiedenis. Dit is deur die keurders beskryf as “’n boek wat groot plesier verskaf en wat ’n mens in een ellelange sitslag kan deurdraf, maar waarnatoe ’n mens telkens teruggekatrol word”.

In my vel: ʼn Reis deur Azille Coetzee en Christo Wiese: Risiko en rykdom deur TJ Strydom is ook vir die niefiksieprys benoem.

ATKV-kinderboektoekennings
In dié kategorie kon leerders van verskillende ouderdomme self vir hul gunstelingboeke en -illustrasies stem:

Voorleeskategorie: Graad RR – 1
Skrywer: Jaco Jacobs (Lapa Uitgewers) – Sasha word stil
Illustreerder: Angela Banks (Lapa Uitgewers) – Sasha word stil

Selfleeskategorie: Graad 2 – 3
Skrywer: Jaco Jacobs (Lapa Uitgewers) – Monsterpizza
Illustreerder: Yolandi Prins (Lapa Uitgewers) – Monsterpizza

Selfleeskategorie: Graad 4 – 5
Skrywer: Fanie Viljoen (Lapa Uitgewers) – Aksieheld Austin: Onheil op Skedelbaai
Illustreerder: Fanie Viljoen (Lapa Uitgewers) – Aksieheld Austin: Onheil op Skedelbaai

Selfleeskategorie: Graad 6 – 7
Skrywer: Annabel Allers (Lapa Uitgewers) – ’n Ou soos jy

Selfleeskategorie: Graad 8 – 10
Skrywer: Nanette van Rooyen (Lapa Uitgewers) – Die 17de veer

Prys vir leesbevordering
Die toekenning vir leesbevordering gaan vanjaar aan die Uyavula Lees- en Skryfprojek. Hierdie projek poog om ’n liefde vir stories en boeke by kinders te kweek.

Die projek bedien kleuters tot 13-jarige kinders in Macassar, Chris Nissen Park en Onverwacht (wat die gemeenskappe van Nomzamo, Zola en Lwandle bedien) deur middel van leesklubs en voorleesgeleenthede in grondslagfase-klasse of individuele kinders. Tydens 2019 het 119 vrywilligers ongeveer 2 093 kinders bereik in vyf skole, 52 klasse en vier leesklubs.

Woordwystoekenning
Die rol van woordboeke en taalgidse kan nie onderskat word nie en daarom bekroon die ATKV elke jaar een van dié boeke.

Die Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse is deur Wannie Carstens, Ernst Kotzé en Elsabé Taljard beoordeel en is aan Legal terminology: English, Xhosa, Afrikaans/Regsterminologie: Engels, Xhosa, Afrikaans (2019) toegeken. Dit is saamgestel deur die Sentrum vir Regsterminologie in Afrikatale en deur Juta uitgegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.