Luister: Taalkenner Suléne Pilon ewe gesellig in loslit Afrikaans

Taalkenner Suléne Pilon kuier in Maroela Media se ateljee. (Foto: Maroela Media)

As taalkenner beywer Suléne Pilon haar vir die vestiging van formele geskrewe Afrikaans, maar wanneer sy gesellig saam met haar familie en vriende kuier, doen sy dit in ʼn gemaklike kuier-Afrikaans. Sonder fênsie woorde, en eintlik in die skadukant van ʼn gesprek waar sy haar inleef in ander mense se stories.

“Ek hou verskriklik baie van mense wat graag praat, want ek is mal daaroor om net te sit en luister. In sosiale omstandighede is ek dus baie tevrede daarmee om eenkant te staan en te hoor waaroor almal gesels,” vertel Suléne lighartig in Maroela Media se ateljee.

Waar presies dié liefde vir stories begin het, kan Suléne nie sê nie. “Ek onthou wel dat ek van kleins af wou gehad het dat mense vir my stories vertel, en ek het nog altyd baie van lees gehou.

“Ek was tipies een van daardie kinders wat op die bed gelê en boek gelees het. Om te hardloop of bal te gooi, was nog nooit iets wat my aandag getrek het nie.”

Wanneer mense vir Suléne ontmoet en hoor dat sy ʼn taalkundige is, neig die meeste reaksies in dieselfde rigting: “Ek is baie jammer by voorbaat vir hoe lelik ek Afrikaans praat”.

“Ek is amper seker dat die meeste taalkundiges presies dieselfde reaksie kry. Wat ek gewoonlik doen, is om mense aan die verskillende registers van Afrikaans te herinner. As ons informeel met mekaar praat, gaan ek ook nie die heel mooiste Afrikaanse woorde uithark om te gebruik nie,” erken sy.

Suléne is in 2022 tot voorsitter van Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie verkies. Sy is sedert 2009 ʼn lid van dié taalligaam, waar sy van 2012 tot 2017 die sekretaris en van 2018 tot 2021 die ondervoorsitter was.

Sy is tans ook ʼn taalkundige en dosent by die Universiteit van Pretoria se departement Afrikaans, en sy is by verskeie inisiatiewe van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) betrokke. Dit behels die moderering van VivA se sintaksisafdeling van die Taalonderrigportaal en die morfologieafdeling van die Taalportaal.

Hoewel Suléne ʼn groot behae in haar werksaamheid in die Afrikaanse taalwêreld skep, sou sy – as sy die talent en aanleg daarvoor gehad het – miskien ʼn ander rigting wou inslaan.

“Dit wat op die oomblik in terme van ruimtenavorsing aan die gebeur is, prikkel my belangstelling ongelooflik baie. Ek sê dikwels vir mense as ek weer kon kies, sou ek ʼn astrofisikus wou word. Dit is wonderlike drome om te hê, maar dit was my nie beskore nie.”

Die Afrikaanse Taalkommissie se komitee vir die termyn 2022 tot 2024. (Foto: Verskaf)

“Tog, is ek ontsettend gelukkig in my werk as taalkundige, en ek beskou dit as ʼn absolute voorreg. Daar is regtig baie mense wat nie van hulle werk hou nie.”

Sy is gaande daaroor om vir studente klas te gee, hulle te help en te begelei. Sy vind ook die navorsing saam met kollegas geweldig fassinerend. “Ek is definitief in ʼn baie bevoorregte posisie dat ek baie hou van wat ek doen.”

Ja, daar is in sekere opsigte rede tot kommer oor die stand van Afrikaans. Uit Suléne se ervaring is dit sigbaar in die kleiner wordende groep studente wat jaarliks Afrikaans as vak neem. ʼn Mens sien dit ook in die toenemende bedreiging van die taal se verskillende funksies.

Suléne is egter nie té besorgd oor die toekoms van Afrikaans nie. “Daar is definitief dinge om oor bekommerd te wees. Ek dink die feit dat Afrikaans se hoër funksies so bedreig word, is uit die aard van die saak nie ʼn gunstige situasie nie. Maar om bekommer te wees oor Afrikaans? Ek dink nie dit is nodig nie.

“Ek is dalk naïef optimisties, en wat ek miskien net moet bysê, is dat ek nie ʼn taalaktivis is nie. Ek het nie heeltemal my vingers so mooi op die pols van presies wat al die probleme is waaroor ons bekommerd moet wees nie.”

Daar gebeur fantastiese dinge in die Afrikaanse taalwêreld, en daar gebeur ook hordes goed wat niks met die politiek uit te waai het nie, meen Sulene. As jy haar verder pols oor wat ʼn mens kan doen om te help om Afrikaans se voortbestaan te verseker, kom dit neer op betrokkenheid.

“Ondersteun Afrikaanse inisiatiewe en besighede, koop ʼn woordeboek en teken in op die elektroniese WAT. En die belangrikste van als: leer jou kinders om Afrikaans te praat, want solank as wat daar kinders is wie se moedertaal Afrikaans is, gaan daar niks met Afrikaans gebeur nie.”

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Suléne Pilon, voorsitter van die Afrikaanse Taalkommissie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.