SA Akademie bring hulde aan Van der Elst

Prof. Jacques van der Elst. (Foto: Akademia.)

Deur prof. Anne-Marie Beukes

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het met diepe leedwese verneem van die afsterwe van ʼn geliefde erelid, prof Jacques van der Elst, op 25 Maart.

Sy heengaan, in die ouderdom van 82 jaar, is ʼn reuseverlies vir die SA Akademie, maar ook vir die ganse Afrikaanse taalgemeenskap vir sy opbouende arbeid op die taalakker van ons soetste taal.

Tekenend van die agting wat Van der Elst in sy lewe verdien het, is die erelidmaatskap wat die SA Akademie aan hom in 2020 toeken. Erelidmaatskap is die hoogste eerbewys wat die SA Akademie toeken aan diegene wat uitsonderlike diens aan die Afrikaanse taal en die Akademie lewer, in die besonder wat die bevordering van die wetenskap, die tegnologie en die literatuur in Afrikaans en die kunste, asook die gebruik en die gehalte van Afrikaans, betref.

Van der Elst, vlymskerp intellektueel en passievolle Afrikaansspreker, het oor jare sy geliefde taal op verskillende terreine gedien. Hy het diep spore by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoëronderwys (PU vir CHO), nou die Noordwes-Universiteit, getrap as departementshoof van die departement Afrikaans en Nederlands waar hy instrumenteel was in die stigting van die bekende ATKV-skryfskool in 1990 en die instelling en vestiging van skryfkuns as voor- en nagraadse vakrigting.

Hy dien ook as dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte en later ook as hoof van dié universiteit se kantoor vir internasionale betrekkinge. Na sy aftrede aanvaar hy in 2005 ʼn betrekking as SA Akademie se uitvoerende hoof waar hy die benarde finansiële posisie, waarin hierdie instelling indertyd verkeer het, omkeer en op sterker voet laat met sy aftrede in 2012.

Van der Elst se betrokkenheid word op deeltydse grondslag voortgesit as die leier van die Akademie se navorsings- en publikasieprojekte, waar hy tot met sy heengaan stewige akademies-gerigte publikasies die lig help sien. Sy bydrae in hierdie verband is besonder beduidend in die lig van kommersiële uitgewers se huiwering om akademiese publikasies met ʼn beperkte oplaag uit te gee.

Soos met alles wat hy aanpak blyk sy onvermoeide toewyding aan die taak voor hande met die toonaangewende Hertzogpryswennerreeks wat in 2017 onder sy leiding ingestel word. In hierdie reeks, wat die kroon span op sy werk, verskyn nege akademiese boeke. Hierdie reeks, wat op wetenskaplike maar ook ontvanklike wyse die lig laat val op die lewe en werk van Hertzogpryswenners, word goed ontvang en ontlok gunstige reaksie van resensente. Sy keuse vir die heel eerste bundel in hierdie reeks handel gepas oor die digter en dramaturg, Adam Small, wat ná vele jare uiteindelik in 2012, tydens Van der Elst se laaste jaar as uitvoerende hoof, deur die SA Akademie met die Hertzogprys bekroon word vir sy drama-oeuvre en spesifiek vir Kanna hy kô hystoe (1965). Verdere bundels oor PG du Plessis, Pieter Fourie, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Reza de Wet, NP van Wyk Louw, Anna M Louw en Elsa Joubert volg hierna.

Slegs enkele dae voor sy oorlye handel hy die manuskrip oor die dramaturg, Bartho Smit, vir publikasie af. Tot die laaste in die tuig.

Van der Elst se visioenêre leierskap en toegewyde institusionele ywer blyk ook uit die leidende rol wat hy sedert 2003 gespeel het in die stigting van die Afrikaanse Taalraad (ATR) in 2008, waarna hy ook optree as die Taalraad se eerste uitvoerende hoof, te midde van al sy ander verpligtinge op die Afrikaanse taalakker. Hy ontvang die FAK se Prestige-prys in 2012 vir sy bydrae in belang van Afrikaans en as HUB van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook HUB van die ATR.

prof-anne-marie-beukes-sa-akademie-vir-wetenskap-en-kuns

Prof. Anne-Marie Beukes. (Foto verskaf)

Van der Elst arriveer as 13-jarige saam met sy gesin uit Nederland en matrikuleer aan die Hoërskool Cillié in Port Elizabeth. Hy word lid van die redaksie van Die Oosterlig in Port Elizabeth waar hy en die vermaarde joernalis, Ton Vosloo, se paaie as kollegas kruis. Hy behaal in 1960 ʼn BA-graad met hoofvakke Afrikaans en Nederlands en filosofie aan die PU vir CHO waar hy die liefde van sy lewe, Betsie Coetzee, ontmoet. Hy keer terug na Die Oosterlig en verwerf vervolgens deur deeltydse studie ʼn honneursgraad by die Rhodes Universiteit en ʼn meestersgraad by die Universiteit van Port Elizabeth. In 1970 voltooi hy die doktoraal in moderne Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Utrecht en vervolgens ʼn doktorsgraad aan die Universiteit van Natal. Na ʼn dienstydperk by die Universiteit van Natal, Pietermaritzburg sluit hy in 1973 aan by die Departement Afrikaans en Nederlands by die PU vir CHO waar hy uiteindelik sy akademiese loopbaan drie dekades later afsluit.

Die jong immigrantseun uit Nederland omarm volledig sy nuwe tuiste en Afrikaans word sy eerste en ʼn geliefde taal. So sou die mooi vrugbare pad wat hierdie besondere man op die taallandskap stap ʼn omarming vergestalt van beide die Afrikaanse en Nederlandse geestesgoedere. Die SA Akademie eer die nagedagtenis van ʼn fyn kultuurmens en brugbouer se lewe, met groot dankbaarheid dat hy sovele taal- en kultuurinstellings verryk het met sy innemende menswees en vlymskerp intellek.

Rus in vrede.

  • Anne-Marie Beukes is die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.