Hoedjies van papier: Die uitskryf van getalle

Argieffoto (Foto: Gerd Altmann/Pixabay)

Deur dr. Stefan van Zyl

VivA se Taaladviesdiens ontvang dikwels navrae oor die uitskryf van getalle. Dit kan ʼn ingewikkelde saak word, aangesien elke genre ʼn eie stel konvensies het. Vervolgens word enkele riglyne in die 2017-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS), sowel as die nuut bygewerkte digitale weergawe van Skryf Afrikaans van A tot Z: jou gids tot keurige Kortpadafrikaans (SAAZ) (2021) hier aangebied.

Afdeling 7 in die AWS bevat riglyne oor die maniere waarop getalle, syfers en simbole hanteer word, terwyl afdeling 18 in SAAZ dieselfde onderwerp hanteer. Dit is belangrik om te onthou dat laasgenoemde bron eintlik ʼn joernalistieke stylgids van Media24 was, en dat heelwat van die riglyne eerder die voorskrifte van senior subredakteurs as taalreëls is. Nietemin is dit ʼn uiters nuttige bron waarop taalpraktisyns dikwels reken om netelige taalkwessies op te los.

  • In joernalistieke skryfwerk word getalle van een tot nege gewoonlik uitgeskryf en van 10 af in syfers. (Sommige publikasies het huisreëls wat bepaal dat een tot tien of een tot twintig uitgeskryf word.) Wanneer die getal egter aan die begin van ʼn sin staan, word dit verkieslik uitgeskryf.
  • In fiksie, veral in die dialooggedeeltes, word getalle gewoonlik uitgeskryf, maar dit is ʼn konvensie, nie ʼn vaste voorskrif nie. Dit is byvoorbeeld aanvaarbaar om jaartalle (1955), die name van vuurwapens waarin getalle voorkom(.22, 9 mm-pistool), kamernommers (saal 10), die enjinkapasiteit van voertuie (1400), ens. in syfers weer te gee. Dit is wel belangrik om daarop te let dat die reël hier bo oor die uitskryf van een tot nege nie op fiksieskryfwerk van toepassing is nie.
  • Die skryfwyse van hooftelwoorde met die voegwoord en word deur die AWS bepaal en geld vir alles soorte skryfwerk. Sulke woorde word óf los óf met koppeltekens vas geskryf, byvoorbeeld een en twintig óf een-en-twintig.
  • Die skryfwyse van rangtelwoorde word ook deur die AWS bepaal. Rangtelwoorde wat uit meer as een komponent bestaan, word vas geskryf en indien dit die voegwoord en bevat, moet dit met koppeltekens geskryf word, byvoorbeeld die een-en-twintigste keer, die vyfhonderdste dag.
  • Die AWS bepaal verder dat tien in verbindings met ʼn voorafgaande telwoord vas geskryf word, byvoorbeeld agtien, negentien.
  • Volgens die AWS is verbindings tussen honderd, duisend, miljoen, miljard, ens. en ʼn voorafgaande telwoord óf los óf sonder ʼn koppelteken vas, byvoorbeeld vier honderd óf vierhonderd, drie duisend agt honderd óf drieduisend agthonderd óf drieduisendagthonderd.
  • ʼn Breuknaam wat uit meer as een komponent bestaan, word vas geskryf, en indien ʼn breuknaam die voegwoord en bevat, word dit met koppeltekens geskryf, byvoorbeeld ʼn drieduisendste, ʼn agt-en-dertigste.
  • ʼn Heelgetal en ʼn breuknaam word los geskryf, bv. een en ʼn halwe koppie meel.
  • Indien ʼn getal een woord én deel van ʼn samestelling is, moet dit uitgeskryf word, byvoorbeeld tweeslaapkamerhuis, driewielfiets.
  • ʼn Getal wat in syfers geskryf word en wat deel is van ʼn samestelling (wat vas geskryf word as dit in woorde weergegee word), moet met ʼn koppelteken aan die woord verbind word, byvoorbeeld 80-jarige.
  • Indien ʼn getal ʼn wisselvorm het, soos ag of agt, kies een en gebruik dit konsekwent in die teks. 

In die volgende gevalle word getalle verkieslik nie uitgeskryf wanneer dit in ʼn sin voorkom nie:

  • Bladsynommers, 10, bl. 201-210
  • Nommers van hoofstukke en dele van ʼn boek, 4, deel 3
  • Breedte- en lengtegrade, 50° 40′ 10” S
  • Bybelverse, Jesaja 28:11
  • Datums (dag en jaar), 12 November 1987
  • Mate en gewigte in byvoorbeeld resepte, 30 ml, 3 botterskorsies
  • Saam met die persentasieteken, 100%
  • Kantoornommer, straatnommer, poskodes, 565, Barnardlaan 4, 8460
  • Groottes van klere, 44
  • Liednommers in ʼn sangbundel, Lied 519, Skrifberyming 21:1
  • Oppervlakte-afmetings, 45 mm × 55 mm
  • Posbus, telefoon, reeks- en registrasienommers, Posbus 2189, 012 XXX XXXX, FR XX GP
  • Sporttellings, 30 – 0
  • Wet- en artikelnommers, Artikel 2(3) van die Wet op Testamente (Wet No. 7 van 1953)
  • Wiskundige verhoudings, 1:100 

Hierdie blog bevat algemene riglyne wat betrekking op die uitskryf van getalle het. Sekere stylgidse kan ander riglyne bevat wat van hierdie riglyne verskil, en daarom is dit belangrik om jou van sodanige spesifieke riglyne te vergewis.

Lees gerus ook die volgende VivA-blogs wat met hierdie onderwerp verband hou: Tel jou woorde met telwoorde, Laat konteks bepaal wat is nommerpas en Grootgetalletabel.

VivA-groete
Stefan

Bronne:

  • Carstens, W.A.M. 2018. Norme vir Afrikaans: Moderne Standaardafrikaans. Pretoria: Van Schaik.
  • Pharos. 2017. Afrikaanse woordelys en spelreëls. https://www.pharosonline.co.za/aws/indeks
  • Pharos. 2021. Skryf Afrikaans van A tot Z: jou gids tot keurige Kortpadafrikaans. https://www.pharosonline.co.za/skryf-afrikaans

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.