Taalgebruik: danksy, te danke, te wyte

Argieffoto. (Foto: Ben White/Unsplash)

Dank is ʼn blyk dat ʼn mens iets waardeer. As jy jou dank teenoor iemand betuig, bedank jy die persoon; dan is jy dankbaar. Jy sê dankie.

Om aan ʼn positiewe gevoel uiting te gee, word danksy en te danke gebruik:

  • Danksy die duisende rose wat daar geplant is, staan Bloemfontein ook as die Rosestad bekend.”
  • Te danke aan die duisende rose wat daar geplant is, is Bloemfontein ook bekend as die Rosestad.”
  • Danksy orgaanskenkings het sy die dood vrygespring.”
  • “Dit is aan die skenker van haar nier te danke dat sy nog leef.”

Die skrywer van die volgende sin het klaarblyklik dus geskryf sonder om te dink: * “Sowat ʼn kwart van alle sterftes aan longkanker by nierokers is aan passiewe rook te danke.” Hier moet gestaan het: “Sowat ʼn kwart van alle sterftes aan longkanker by nierokers is aan passiewe rook te wyte.”

ʼn Mens wyt iets aan iemand, of jy wyt iets aan iets anders, as jy die persoon of ding daarvoor blameer. Iets wat aan iets anders te wyte is, is ʼn onaangename gevolg daarvan. Om ʼn negatiewe gevoel uit te druk – om iemand of iets die skuld vir iets te gee – is te wyte aan die korrekte segswyse om te gebruik:

  • “Die swak oes is aan die voortdurende droogte en hitte te wyte.”
  • “Tipe 1-diabetes is meestal te wyte aan ʼn outo-immuunafwyking.

Ook die skrywer van die volgende sin moet dus oplet: * “Topsakelui sê dikwels van hulle beste kreatiewe prestasies was te wyte aan groot druk binne die maatskappy.” Nee. Hier moet gestaan het: “Top-sakelui sê dikwels van hulle beste kreatiewe prestasies was te danke aan groot druk binne die maatskappy.”

Is jy onseker daaroor of iets positief of negatief is? Gebruik dan liewer toeskryf om die oorsprong, oorsaak of rede aan te dui. Toeskryf is neutraal: “Hoewel sommige ekonome die sterkte van die rand aan grondliggende ekonomiese faktore toeskryf, meen ander dit moet regstreeks aan die swakheid van die Amerikaanse dollar toegeskryf word.”

Bron: Die tale wat ons praat – taaldinge uit die gewilde radioprogram  

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.