Fanie Cronje skryf:
In 1994 was dit veral die Afrika-kontinent wat met groot afwagting na die nuwe demokrasie gekyk het.
Die doel om die Suid-Afrikaanse voorbeeld van demokrasie en samewerking in ʼn land van konflik te volg en wat dan as voorbeeld behoort te dien. Ek het self in daardie tyd ook in Afrika gereis en daar is beslis met afwagting uitgesien na die voorbeeld van Suid-Afrika. ʼn Land vry van sentrale regeringsinmenging, vry van korrupsie en die geleentheid vir die groei, ekonomies en polities, van gewone burgers en hul reg om ʼn beter lewe te eis.
Suid-Afrika was dus in die verhewe posisie om Afrika uit hul ellende te kry. Om ʼn waardige navolgingsvoorbeeld te stel en uiteindelik daarin te slaag om die hele Afrika, as die kontinent met geweldige natuurlike hulpbronne, uit die “modder” te sleep. Aanvanklik, met die euforie rondom die eerste president Nelson Mandela en daarna die Afrika-Renaissance-inisiatiewe deur sy opvolger president Thabo Mbeki, wou dit voorkom asof dit inderdaad wel moontlik is.
Ongelukkig het die “verval” toe reeds begin met aangeleenthede soos byvoorbeeld die hele Vigs-debakel en andere. Daarna het die derde president, Jacob Zuma, die leisels oorgeneem en het die era van staatskaping in alle ywer begin.
Dit wil sê, eerder as ʼn voorbeeld van uitnemendheid (waarmee Afrika kon identifiseer) te word, het Suid-Afrika juis daardie voorbeeld van wat in Afrika gebeur nagevolg en kan ʼn mens derhalwe sê dat Suid-Afrika afgetrek is na die “swakkere” voorbeeld.
Suid-Afrika het egter weer ʼn geleentheid om die verskil in Afrika te maak. Met die koms van die tydperk van koalisies (samewerkende regering) kan Suid-Afrika weer daardie verskil maak deur vir Afrika die voorbeeld te stel van hoe om dit te bewerkstellig.
Almal wat kan, moet eerstens gaan stem om te verseker dat daar nie weer eenpartyoorheersing is nie. Dan sal dit tweedens van politici afhang om te verseker dat die regering in belang van die groter belang sal wees.
Nie net vir Suid-Afrika se welstand nie, maar ook as voorbeeld vir Afrika, is dit krities belangrik dat koalisieregering eerstens stabiliteit en gesamentlike ekonomiese groei bring, maar ook die groter belang dien.
Suid Afrika pas nog rasistiese wette soos seb en kwota sisteme gebaseer op velkleur toe ,so dit moet eers gestop word voor sa enige invloed op die vasteland kan speel.
Die Anc het 30 jaar tyd gehad en kon nie in die doel geslaag nie , was destyds ook so voorspel deur PW Botha in n openbare toespraak waar hy erg gekritiseer was.
“Suid-Afrika het egter weer ʼn geleentheid om die verskil in Afrika te maak.” Dink nie so nie. Intussen moet die skrywer dieper en wyer dink. Gaan delf baie vêr terug in die geskiedenis.
Vroeg in Genesis word ons vertel hoe die Skepper voel oor sulke saam-saam bou en net een taal besig. Die stad Babel was van plan om hierdie ideologie uit te bou, maar daar is gou ‘n stokkie voor gesteek. Die Babelse verwarring wat gevolg het was presies wat die Skepper beplan het. Nou word dit sonde genoem as mens nie Sy Wil wil ondermyn nie. Glo ons regtig nog aan die Bybel of wil ons Hom dwing om Sy Wette te wysig en vroom hoop ons kan Hom boelie en ‘opvoed’?