Woordsoorte: lidwoorde

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Hierdie blog is gebaseer op die inligting oor lidwoorde soos vervat in die Afrikaanse Skoolgrammatika. ASG is ʼn gratis, aanlyn hulpbron wat in Taalonderrigportaal gehuisves word. Registreer as ʼn gebruiker by www.viva-afrikaans.org om toegang tot al ons produkte te kry. Registrasie is gratis.

Dit is gewoonlik betreklik maklik om lidwoorde in ʼn sin te herken, omdat daar maar ʼn paar van hulle is, maar daar is tog ʼn paar interessanthede om na op te let wanneer ʼn mens oor lidwoorde gesels.

Kom ons begin by die definisie van ʼn lidwoord, soos wat dit in ASG vervat is: Die lidwoord is ‘n funksiewoord wat voor ‘n naamwoord optree, en aandui of die naamwoord ‘n onbekende, bekende of afwesige ding benoem.

Daar is ʼn paar belangrike dinge om van kennis te neem in hierdie definisie:

In die eerste plek sê die definisie die lidwoord is ʼn funksiewoord. ʼn Funksiewoord se werk in ʼn sin is nie om soseer inhoud oor te dra nie (ʼn naamwoord, byvoorbeeld, dra inhoud oor), maar om verhoudings tussen inhoudswoorde te skep. Kyk byvoorbeeld wat gebeur in hierdie voorbeeldsinne:

  1. Sandra koop die
  2. Sandra koop ʼn

Die lidwoorde dra nie in die eerste plek inhoud oor nie, maar die lidwoord verander die verhouding tussen Sandra en trui. In die eerste voorbeeld koop Sandra ʼn gespesifiseerde (bepaalde) trui, en is die implikasie dat Sandra en die trui reeds geskakel is – Sandra ken die trui. In die tweede voorbeeld koop Sandra ʼn ongespesifiseerde (onbepaalde) trui, en is die implikasie dat daar nog nie ʼn verhouding tussen Sandra en die trui is nie.

In die tweede plek tree lidwoorde ingevolge die definisie voor naamwoorde op. Dit is ʼn belangrike kenmerk van lidwoorde, maar omgekeerd is dit ook ʼn belangrike kenmerk van naamwoorde: Naamwoorde kan lidwoorde neem, en dit word daarom een van die toetse waarmee ons bepaal of ʼn woord ʼn naamwoord is of nie.

Die derde ding wat ons in hierdie definisie moet raaksien, is dat ʼn lidwoord kan aandui of ʼn ding afwesig is. Ek vermoed dit is inligting wat nie geredelik in skoolhandboeke ingesluit word nie, daarin is dit belangrik om hiervan kennis te neem. In die volgende sinne tree daar sogenaamde ontkenningslidwoorde op. Dit is hierdie ontkenningslidwoorde wat veroorsaak dat die ding waarna die naamwoord verwys, afwesig is:

  1. Sandra wou geen trui koop nie.
  2. Daar was trui in sig nie.

Die ontkenningslidwoorde is semanties die teenhanger van die onbepaalde lidwoord. Dit beteken as ʼn mens die sinne hier bo, wat negatief is, sou omskakel na positiewe sinne (Sandra wou ʼn trui koop. Daar was ʼn trui in sig.) word dieselfde posisie in die sin deur ʼn onbepaalde lidwoord ingeneem.

Daar is ʼn vierde groep lidwoorde wat ook nie altyd in skoolhandboeke genoem word nie, en dit is die relikte wat ons uit Nederlands oorgehou het. Dit is argaïese (baie ou) vorme van lidwoorde wat ons in Afrikaans eintlik net in vaste uitdrukkings aantref, soos wat de joos, ter herinnering aan en nog is dit het einde niet. Dit is belangrik dat ʼn mens hulle as lidwoorde moet kan herken, maar ʼn mens hoef hulle nie te kan opsê nie – die vorme is in woordeboeke opgeteken.

Ons het dus in Afrikaans vier soorte lidwoorde: bepaalde lidwoorde, onbepaalde lidwoorde, ontkenningslidwoorde en argaïese lidwoorde.

ʼn Ander belangrike ding waarvan ʼn mens in die afdeling oor lidwoorde moet kennis neem, is die skryfwyse van die onbepaalde lidwoord ʼn. Die woord slaan ook terug op Afrikaans se Nederlandse herkoms, want dit is ʼn vervorming van die Nederlandse lidwoord een. Die apostroof (ander naam: afkappingsteken) dui aan dat die twee e’s weggeval het, en dat ons in Afrikaans net met die n oorgebly het.

Let daarop dat die apostroof in Afrikaans soos ʼn 9 gevorm word. Die bolgedeelte van die teken is bo, en die stert word regs van die bol na onder gemaak. Maak seker as jy tekste op ʼn rekenaar genereer dat jy die regte apostroof gebruik, want die verstek in Word is dat die omgekeerde apostroof gebruik word (wat soos ʼn 6, met die bol onder en die stert links na bo, krul). Die reguit strepie is ook in drukwerk aanvaarbaar.

Die uitspraak van hierdie oënskynlik onbenullige woordjie is ook klaarblyklik problematies. Die feit dat die n in die skrifbeeld oorgebly het, beteken nie ʼn mens moet dit so uitspreek nie. Die Uitspraakwoordeboek van Afrikaans erken sewe uitsprake, onder andere een wat klink soos in en een wat klink soos hin, maar dié horingou bron sê al dat die uitspraak met net die schwa, dit wil sê die neutrale i-klank in ʼn woord soos in, wat foneties as [ə] voorgestel word, die algemeenste is.

VivA-groete

Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.