Woord: vors

Argieffoto (Foto: Monika/Pixabay)

Woord:
vors

Betekenis en herkoms:
Daar is verskillende betekenisse wat aan die woord “vors” geheg kan word:

In die eerste plek verwys dit na ʼn regeerder of opperhoof, en om die eerste of voorste op enige gebied te wees.

Volgens die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) kom dit uit Nederlands: vorst (al Mnl. in bet. 1, 1635 in bet. 2), wat die gesubstantiveerde vorm is van voorst (voorste), die oortreffende trap van voor. Dit is ʼn vertaling van die Latynse princeps, met laasgenoemde ʼn samestelling van primus (eerste) en –caps of –ceps uit capere (neem). Dus is die oorspronklike betekenis “wie die eerste plek inneem, die eerste in rang”.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) voeg by dat die verwysing daarna om die eerste of voorste op enige gebied te wees, ʼn figuurlike en weinig gebruiklike betekenis van die woord is.

Twee ander definisies van die woord “vors” wat ook volgens die HAT minder bekend is, is om ondersoek te doen, probeer te wete te kom, navors; en ryp of vriesweer. Beide dié betekenisse se herkoms lê in Nederlands: ondersoek doen word afgelei van vorsen (1803) en ryp, vriesweer van vorst (al Mnl).

Die nok van ʼn dak, die plek waar die skuins vlakke van ʼn dak bo saamkom of die boonste dakrand, word ook die “vors” genoem, verklaar die HAT. Die EWA verduidelik ook dat dit uit Nederlands – vorst (al Mnl.) – kom. Dit is ʼn sametrekking van voor (voor) en die stam van staan (staan) en beteken dus “wat voorop staan, wat uitsteek”.

Bronne: Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA)

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.