Uitgewersreus stel nuwe druknaam bekend

Luca, ‘n druknaam van Penguin Random House SA. (Foto: LUCA/Facebook)

Penguin Random House Suid-Afrika het pas ’n nuwe Christendruknaam genaamd Luca bekendgestel. Die naam is van die Latynse woord “lux” afgelei wat “lig” beteken en sinspeel daarop dat Luca lesers sal help en lei om hoop, inspirasie en antwoorde te kry in ’n wêreld waar dit al hoe moeiliker word om gelowig te wees en te bly.

“Luca se aanbod aan lesers beloof om modern te wees en leesstof aan alle ouderdomme te bied, van kinders tot volwassenes. Dié druknaam bied boonop ’n wye verskeidenheid genres van fiksie tot nie-fiksie,” sê Veronica Scholtz, uitgewer van Luca.

“Ons is toegewyd en opgewonde om nuwe inspirerende stories en boeke oor die Christelike lewe en studie, begrip en genot van die Bybel te publiseer,” sê Scholtz.

Lesers kan onder andere uitsien na:

  • Opbouende en inspirerende boeke wat gesonde spirituele groei aanwakker.
  • Vermaaklike kinderboeke met ’n geloofgebaseerde tema deur gewilde skrywers.
  • Plaaslike stories deur Suid-Afrikaners wat maniere gevind het om terugslae deur hul geloof te bowe te kom.
  • Boeke wat die leser lei tot ’n dieper verstaan en toepassing van die Bybel.

Die eerste publikasie wat na verwagting in April verskyn, is Arendsvlerke vir Siebert deur die bekroonde skrywer Elsa Winckler. Dit is ʼn fiksieboek vir volwassenes wat ’n aangrypende en boeiende verhaal oor liefde, oorwinning, Christelike waardes, en die impak van dwelmmisbruik op ’n gesin is.

“Ek is trots om die eerste skrywer te wees wie se boek deur Luca uitgegee word. My boek gaan oor die vernietigende gevolge van dwelmmisbruik op ’n geliefde. Ek het dit geskryf om hoop te gee aan almal wat al moes saamleef met verslawing of emosionele ondersteuning gebied het aan verslaafdes,” sê Elsa Winckler.

Luca se boeke sal van April af aanlyn en landwyd by boekwinkels beskikbaar wees. Lesers kan ʼn e-pos aan Christine Craze stuur by [email protected] om meer te wete te kom of Lapa Uitgewers se webwerf besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.