Wees (aan)dadig by Tuin van Digters 2019

Breyten Breytenbach (Foto verskaf deur Tuin van Digters)

Die tema van 2019 se Tuin van Digters is (aan)dadig – ’n skerpskepping van Breyten Breytenbach, wat vanjaar die digter is wat by die Tuin van Digters gehuldig word. Wees nie skuldig om uitdagend en skeppend te wees nie. Wees aandadig daaraan – en uiteindelik dadig. In Afrikaans, en saam met ander tale en taalsprekers in Afrikaans.

Breytenbach, een van Suid-Afrika se mees gevierde en befaamde digters en oud-Wellingtonner, vier op 16 September 2019 sy tagtigste verjaarsdag.

Die Tuin van Digters, die tuiste van die Afrikaanse digkuns, word op 13 en 14 September 2019 vir die agtste keer by die Breytenbach-sentrum in Burgerstraat 14 in Wellington aangebied.

Breyten, soos hy alom in die spreektaal bekend is, het saam met sy ouers en jonger broer en suster in die huis waarin die Breytenbach-kultuursentrum 12 jaar gelede gestig is, gewoon.

Breyten sal buiten sy huldiging Vrydagaand, waar Laurinda Hofmeyr (bygestaan deur baskitaarspeler Schalk Joubert) van sy getoonsette gedigte sal sing, ook Saterdagmiddag deelneem aan ’n paneelbespreking oor vertaling van gedigte en of sy gedigte vertaalbaar is. Saterdagaand sal hy, met musiekbegeleiding deur Schalk Joubert, van sy gedigte voorlees.

Twee bundels wat Breyten Breytenbach se werk vier, word op die fees bekendgestel. ’n Huldigingsbundel van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, breyten breytenbach, woordenaar woordnar, word Saterdagoggend tydens ’n paneelbespreking bekendgestel asook Rooiborsduif, ‘n keur uit Breytenbach se werk.

’n Ander hoogtepunt is die toekenning Saterdagaand van die Ingrid Jonker-prys vir ’n Afrikaanse debuutbundel aan Pieter Odendaal vir sy bundel asof geen berge ooit hier gewoon het nie.

Ons Klyntji 2019, ’n alternatiewe, veeltalige zine wat gedigte, kortverhale, fotografie en strokiesprente publiseer, word ook bekendgestel met van die digters en skrywers wat hul gedigte en verhale sal voorlees. “Getuies”, ’n rymklets-trio van tussen Wellington en die Paarl, sal hul gedigte rymklets.

Afrikaanse digbundels wat bekend gestel sal word, sluit in Willem S. van der Merwe se Nuwe Vrese, Christo van der Westhuizen se debuutbundel Chrisalis, Diana Ferrus se Die vrede kom later en Gaireyah Fredericks, een van die Breytenbach-sentrum se Mengelmoesdigters, se meTTie mAAn gePLa.

Daar is ook Engelse, Xhosa, Belgiese en Nederlandse teenwoordigheid. Frieda van den Heever, aanbieder van RSG se gewilde program Vers en klank, deel die verhoog met digters Danie Marais, Jolyn Phillips, Lwanda Sindaphi, Diana Ferrus en Daniel Hugo wat gedigte in Afrikaans, Xhosa en Engels sal voorlees en saam dink en besin oor wat deur vertaling gewen en verloor kan word. Prof. Yves T’Sjoen van die Universiteit van Gent sal benewens ’n huldebetoon aan Breyten Breytenbach ook vertel hoe Breyten se tagtigste verjaardag in Gent gevier gaan word. Die Nederlandse sangeres Lieke Joosen en haar twee musikante is op hulle eerste besoek aan Suid-Afrika. Sy vermeng bestaande Afrikaanse liedjies met eie toonsettings in Afrikaans van gedigte van onder andere Antjie Krog.

Dan is daar spesiale optredes deur Danie du Toit, voorsanger en skrywer (en digter) van Spoegwolf met sy kitaar, die talentvolle jong Akimba-musiekgroep, die digters van hoop van die Weltevrede Sekondêre Skool in Wellington, poësieteater deur die Breytenbach-sentrum se dramagroep, Woorde op Akkoorde deur Frazer Barry en sy musikante Saterdag tussen 13:00 en 14:00, Willemien/Philomène en :amaFranx met musiek oor die konteks van die lewe, die liefde en die spasies tussenin, en Elsabé Daneel se roerende voorlesing van gedigte van onder andere Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker.

Daar is nog meer by 2019 se Tuin van Digters . . . die volledige program kan afgelaai word op die Breytenbach-sentrum se webwerf.

Kaartjies is R350 per persoon vir albei dae (Vrydag en Saterdag), R150 per persoon net vir Vrydag (wat al die aanbiedings insluit), R250 per persoon net vir Saterdag (wat alle aanbiedings insluit), R50 per dag per student en gratis vir opbetaalde lede van PEN Afrikaans.

Bespreek by Jeanne-Marie Gerber by [email protected] of 021 873 2786 of 073 435 1022.

MEER INLIGTING:
E-pos: [email protected]
Breytenbach-sentrum se webwerf
Breytenbach-sentrum op Facebook
Breytenbach-sentrum op Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.