Die 17 maandeoue Chloe Laney, wat Saterdag oorlede is, se begrafnisreëlings is bekendgemaak.
“Baba Chloe” se ouers, Corlia (27) en Henry (36), moes noodgedwonge die masjiene wat haar aan die lewe hou, afskakel.
Chloe, wat deur haar ma beskryf is as “die gesin se skoenlapperprinses”, is op 7 Julie 2011 op 27 weke vroeggebore. “Sy was ‘n baie siek baba en haar longetjies wou glad nie ontwikkel nie. Sy was omtrent tien dae aan masjiene gekoppel. Die pad van vroeggebore babas het baie op- en afdraendes,” het sy gesê. Teen Chloe se eerste verjaardag het sy reeds 312 dae in die hospitaal deurgebring.
Chloe het vinnig mense se harte op sosiale netwerke aangegryp en daar is landswyd vir haar gebid. Haar begrafnis vind Vrydag om 10:00 uit die NG-kerk (Moedergemeente) in Riebeeckstad, Vrystaat, plaas.