Griekwastad-moord: Jeugdige het glo sielkundige gesien

Deon, Christelle en Marthella Steenkamp.

Die Steenkamp-familie het glo alle moontlikhede bespreek wat tydens die 2012 Griekwastad-plaasmoorde kon gebeur het, het die Noord-Kaapse hooggeregshof Maandag gehoor.

Die Kimberleyse hooggeregshof hoor tans getuienis in die saak teen ‘n 16-jarige seun wat van die moord op Deon Steenkamp (44), sy vrou Christel (43) en dogter Marthella (14) verdink word. Hulle is op 6 April 2012 op die plaas Naauwhoek vermoor.

Deon se suster, Marianna Smith was Maandag die staat se eerste getuie. Sy het getuig dat verskeie familielede na die plaashuis is om ‘n lys te maak van items wat moontlik gesteel is. In een stadium het sy en haar ma, Bettie Steenkamp, in die sitkamer gestaan en gespekuleer hoe Deon en Christel in hul huis oorval kon word. “Ek vermoed dat iemand in die gang van die huis afgestap het en Christel voor haar rekenaar doodgeskiet het.” Marianna sê sy het in die dae ná die moord met die seun gesels. Sy het getuig dat hy normaal opgetree het die eerste keer toe sy hom gesien het. “Hy het nie gehuil nie, hy was nie emosioneel of hartgebroke nie.” Sy het verder gesê dat hy ‘n dag later vrolik was en selfs toekomsplanne bespreek het. Sy was die familielid wat na die lykshuis in Kimberley is om die liggame van haar broer, skoonsuster en broerskind uit te ken.

Willem Coetzee, die verdagte se prokureur, het gesê die seun het teen daardie tyd reeds sielkundige berading ontvang. “Kon dit hom gehelp het? Kan dit die rede wees waarom hy kalm voorgekom het?” het Coetzee onder kruisverhoor aan Marianna gevra. “Dis moontlik,” het sy geantwoord. “Ek weet nie, dis ‘n onbekende veld. Ek weet nie hoe werk hulle nie.”

Coetzee het haar verder gevra watter invloed haar broer se afsterwe op haar gehad het. “Dit was ‘n groot skok,” het Marianna gesê. Sy het later ontken dat sy bevooroordeeld is teenoor die seun. In ‘n koerantartikel het Marianna glo aangevoer sy sal die eerste een wees om die seun om verskoning te vra indien sy met valse aantygings bevooroordelend was teenoor hom. Sy het egter in haar getuienis erken dat sy voel die seun het nog nie alles gesê wat hy weet nie. Coetzee voer aan mens kan nie gedetailleerde getuienis van ‘n kind verwag wat in daardie stadium deur sy eie trauma gegaan het nie.

Marianna se kruisverhoor duur Dinsdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.