Robert McBride, die voormalige hoof van die Ekurhuleni-metropolisie, is Donderdagoggend in die Pretoriase hooggeregshof vrygespreek op aanklagte van dronkbestuur en poging tot regsverydeling. Hy is vroeër deur die hof tot vyf jaar tronkstraf gevonnis op dié aanklagte, waarop hy gevolglik appelleer het.
Regter Cynthia Pretorius het hom vandag onskuldig bevind en het aangevoer dat die staat geen van die klagtes teen die beskuldigde bo redelike twyfel kon bewys nie.
Hy het op 21 Desember 2006 van die metropolisie se jaareindfunksie naby Hartbeespoortdam gery toe hy sy motor gerol het. McBride is in April 2011 skuldig bevind en is in September tot vyf jaar tronkstraf gevonnis.
Pretorius het getuienis van McBride se drie voormalige kollegas verwerp. Hulle het hom op die betrokke aand bygestaan en McBride se weergawe van die storie ondersteun en toe later ʼn “skielike ommekeer” gehad en teen hom getuig.
In sy appèl het McBride aangevoer die kollegas is deur lede van die georganiseerdemisdaad-eenheid geïntimideer om hul storie te verander omdat McBride en dié eenheid glo gereeld koppe gestamp het.
Polisie-ondersoeke en gevolglik die inligting waarmee die Staatsaanklaer voorsien word, is deesdae so gebrekkig dat geen hof meer ‘n goed gefundeerde beslissing kan maak nie – en sodra die hof twyfel, is die saak gewoontlik onbeslis. Hierdie toedrag van sake plaas groot druk op die regspleging en ontstaan daar al meer twyfel in hofbeslissings. Wat ‘n droewige situasie vir Suid-Afrika wanneer sy regspleging onder verdenking kom.