‘Hulle het vir my gestremde kind gelag’

mense-met-gestremdhede

Foto: PublicDomainPictures/Pixabay.com

Deur Annelize Jansen van Rensburg

Gestileerd-verveeld sit en sweet die klante, oënskynlik ongeërg oor die diens wat nie juis ʼn toekenning regverdig nie. Te ordentlik om te kla, sien. Die adres is immers só reg. Die koffiewinkel is ingerig volgens ʼn spesifieke tema in ʼn poging om die uitverkore bestemming van die oomblik te wees. Die argitektuur en dekor weerspieël die gees van die klante se finansiële gemak.

Die dopamien, van die klante sowel as die eienaar, vloei in ooreenstemming met die gesing van die geldlaai. Die mensspesie raak toenemend vinniger versadig in ʼn goedvoel-vir-die-oomblik-kultuur. Môre-oormôre word daar na blinker bestemmings met ʼn groter dopamien-aanbod gesoek.

Ons sit buite onder die tent-afdak van die koffiewinkel. My 19-jarige gestremde seun wil die badkamer besoek. Ek stap saam, kastig omdat ek ook wil gaan, maar eintlik net om hom te help kyk waar dit is. Die plek is vir ons vreemd; netnou sien hy nie die aanwysings na die badkamers nie. As jy ʼn gestremde kind het, is jy altyd aan diens, waaksaam, bang, beskermend. Die ironiese paradoks is dat jy ’n gestremde kind méér wil beskerm terwyl jy hom terselfdertyd meer doelgerig moet leer om op sy eie klaar te kom omdat jy nie altyd daar kan wees nie.

Hy stap voor my by die twee trappies op binnetoe. Ek het nie presies gesien wat gebeur het nie; sy voet het dalk vasgehaak en hy het effens skeef getrap. Nie te opvallend nie. Net genoeg om die jong blasé paartjie wat daar naby gesit het se aandag te trek. Hulle het vir hom gekyk, toe na mekaar en toe gelag. Vir hom, mý kind.

Warm en koue skokke het deur my bors geruk en my momenteel verlam. Uit die diepste binneste van my moedermenswees het ʼn onbeheerbare dier ontwaak, rasend van woede en pyn, ontnugter deur die verraad van my naaste. Die psige van ʼn moeder met ʼn gestremde kind kan binne ʼn oomblik na ʼn toestand van waansin verander. Kortasem en bewend het ek in die jong vrou se oë gekyk, doelbewus te lank. Maar daar was op haar gesig net die totale onbegrip en onverskilligheid van iemand wat tot dusver ʼn gerieflike lewenspaadjie in gemaklike skoene gestap het.

Beelde van ʼn bekende fliek waarin die vrouehoofkarakter ʼn pyl en boog met besondere vernuf hanteer, het by my opgekom terwyl ek verstom na die paartjie staan en kyk. Iewers in die psige van ʼn moeder met ʼn gestremde kind is ook selfbeheersing van staal. Ek het my kind badkamer toe gelei sonder dat ek enigiemand in hierdie paar oomblikke verskree of leed aangedoen het.

Maar ons moes weer verby die paartjie loop om by ons tafel te kom.

Laat ek my skandes vir myself hou. Ter wille van my kind, wat gelukkig niks van die hele petalje agtergekom het nie, het ek my gedra. Maar die beeld van daai pyl en boog …

Die hart van ʼn ma met ʼn gestremde kind is ʼn weerlose, verskrompelde, onsekere en wispelturige orgaan met ʼn wil van haar eie. Sy kry maklik seer, moet baie teleurstellings en terugslae hanteer en baie oorloë voer – meestal stil-stil. ʼn Ma van ʼn gestremde kind wens soms dit was wettig om ʼn pyl en boog te mag gebruik om die seer van die lewe van haarself en haar kind weg te hou. Die moederhart leer egter, teen wil en dank, om hierdie dinge te absorbeer en mettertyd bêre jy maar die pyl en boog.

Onthou, 3 Desember is Internasionale Dag vir Mense met Gestremdhede. Raak vir ʼn oomblik stil en waardeer dit wat jy het.

As daar ʼn huis of skool vir gestremdes in jou omgewing is, neem vir hulle ietsie lekkers om te eet; ʼn bietjie van jou geduld om te luister na ʼn onsamehangende geselsie; ʼn bietjie van jou simpatie oor ʼn seerplek; ʼn warm hand op hul skouer; ʼn oomblik uit jou bestaan om aan hulle menswaardigheid te betoon.

Sal jy?

En sit asseblief ekstra versiersuiker op die kolwyntjies wat jy vir hulle neem.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
A

Baie sterkte, ek verstaan jou uiterste woede en bewonder jou selfbeheersing. Ongelukkig besef min dat fisiese gestremdheid nie ‘n keuse is nie. Hulle besef nie hulle eie gestremdheid van absolute ongeskiktheid en gevoelloosheid nie.

Melt Olckers

Ek is Outisties, en kan uit persoonlike ervaring getuig van die diskriminasie wat ons as Outistiese mense met onsigbare gestremdhede elke dag moet ervaar. Ons word op skile geboelie, in die publiek beledig, gevloek en ook voor gelag oor ons “onaanvaarbare” gedrag.

Ek vra vir aanvaarding. Om ook deel van die gemeenskap te wees. Regte vir gestremdes is menseregte.

Se maar net

As n ma met n gestremde kind weet ek vandag presies hoe jy voel… Dankie dat jy so uit my gedagtes uit gepraat het !! Ek wens soms dat die mense wat lag en agter af praat maar net sal weet dat ek en jy 100 keer meer geseend is as wat hulle is want ONS is gekies om baie baie special kids groot te maak .. nie hulle nie !!

Cornelia

Wie ookal vir gestremdes lag of hulle spot, bewys maar net hulle swak opvoeding!

M

Ek is bevoorreg genoeg om ‘n gestemde stiefseun te hê – bevoorreg ja – want hy gee onvoorwaardelike liefde – hy vra ook net onvoorwaardelik liefde en aanvaarding. Ek glo dit is ‘n frustrasie om in ‘n liggaampie te wees wat fisies so erg gestremd is dat hy nie kan sit of loop nie – hy kannie praat nie, en dra ook nog doeke. Maar vir ons is dit elke dag ‘n voorreg om hom te sien wakker word – want more oggend kan hy dalkies net bly slaap. Ek glo dat ons as ouers (al is ek nie sy… Lees meer »