Lesersbrief: ChatGPT, die warm onderwerp op almal se lippe

Felicia Richardson (Foto: Melissa Meyer photography)

Felicia Richardson van Pretoria skryf:

ChatGPT is ʼn kunsmatige intelligensie (KI)-kletsbot wat geskep is deur OpenAI, ʼn navorsingslaboratorium wat deur Sam Altman en Elon Musk gestig is.

Hierdie innoverende tegnologie stel gebruikers in staat om vrae in die ChatGPT-boks in te voer en dan dus antwoorde te ontvang wat ʼn verskeidenheid onderwerpe dek. Deur van kunsmatige intelligensie gebruik te maak, word ChatGPT in massiewe datastelle opgelei en kan dit selfs teksgebaseerde of beeldreaksies skep.

Daar is natuurlik gemengde gevoelens oor ChatGPT. Hoe gaan dit in die toekoms ons werk beïnvloed? Gaan dit die onderwysstelsel ontwrig? Wat is die punt daarvan om op skool te leer hoe om opstelle te skryf wanneer KI, wat na verwagting eksponensieel beter sal word, in die nabye toekoms dit vir ons kan doen?

Dit is alles geldige vrae, maar ek sien dit soos volg: ChatGPT is soos wiskunde. Ons leer die basiese konsepte van wiskunde op skool, en later gebruik ons hierdie vaardigheid tesame met rekenaarpakkette soos Excel, om maar een te noem, om ons werk te vergemaklik of om op groot skaal datastelle te verwerk.

Uiteindelik moet ons nog steeds kritiese of analitiese denke gebruik om tot ʼn gevolgtrekking te kom. Die punt is, met wiskunde is die doel nie altyd om net ʼn oplossing te kry nie, maar ook om ons vermoë te versterk om krities te dink en ons redenasie te verduidelik. Daarom word punte in wiskunde óók toegeken vir die stappe wat jy uitstippel en nie net vir die finale antwoord nie.

Dit is soortgelyk in die geval wanneer ʼn mens ChatGPT gebruik. Jy moet eers oor die basiese vaardighede beskik, byvoorbeeld kreatiwiteit, probleemoplossing en emosionele intelligensie, asook die regte stappe volg om hierdie hulpbron reg aan te wend. Enigiemand kan gebruik maak van KI, maar dié wat dit slégs gebruik as ʼn hulpbron aanvullend tot jou vaardighede, eerder as om dit net as ʼn program te gebruik wat namens jou dink, kan groot dinge ten uitvoer bring.

Diegene wat hierdie konsep verstaan, sal nie bang wees vir wat KI vir ons toekoms kan beteken nie; in plaas daarvan sal hulle dit verwelkom.

  • Felicia Richardson werk as jeugkurator vir inhoudsontwikkeling en implementering by Solidariteit Jeug.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die mens se rol is vinnig besig om te verander. Baie mense is reeds oorbodig, maar het dit nog nie besef nie.

Wicus ·

Die nuwe tegnolgiee skep geweldig baie geleenthede vir die wat bereid is om dit te bemeester, die ander gaan net eenvoudig agterbly.

Die vraag na die sin van die lewe gaan net meer en meer figureer en sielkundiges gaan sakke vol geld maak.

Ek vermoed erge maatskaplike probleme en ook ‘n te kort aan basiese vaardighede, die ou wat jou waterpyp regmaak, jou elektriese draad koppel, ek dink dit gaan nog ‘n tyd vat vir AI en Botte om die velde te betree.

De Bok ·

ChatGPT is nog nie werklike KI nie, dit is net ‘n statisitiese taal model. Soos ons statistiese modelle kan gebruik om weer en markte te voorspel, so voorspel ChatGPT opstelle en antwoorde op vrae. Dit s net ‘n voorspellingsmodel wat gebaseer is op bestaande skryfstukke. As jou vraag generies genoeg of algemeen is, kan ChatGPT maklik voorspel wat die regte antwoord gaan wees. Sodra jy wil spesialiseer, dan val ChatGPT van die wa af, en is werklike insig en verstand nogsteeds nodig.

Heinrich ·

Ek kan nie wag vir dag wat Kunsmatige Intelligensie die staatsdiens en plaaslike munisipaliteite kan vervang nie!

Republikein in die Wes Kaap ·

Hopelik sal KI eendag ook politici vervang.

Nommer 7 ·

Vir my is hierdie skrikwekkend, In ‘n beroep vat dit jare om als te weet wat jy moet weet. ‘n Chatbot sal alles alreeds weet op die eerste dag van indiensneming.

gpsa ·

Nognie ‘n voorstaander hiervan nie. Dink dit gaan beroepe minder maak. Dit kan omtrent enige iets skets, Gedigte en liede in sekondes skryf, ingenieurs berekeninge binne sekondes doen en omtrent enigiets anders. Gaan ook heel waarskynlik eendag dokters voorskrifte kan skryf.

Die G staan vir grenerative hy genereer dus eie uitsette, hy is nie net ‘n search engine soos google wat net op bestaande inligting kan werk nie

Pieter ·

ChatGPT is Ok, maar maak nog foute. Jy moet baie spesifiek wees met vrae. Dit beantwoord nie alle vrae nie, net wat dit as nie-beledigend is of omstrede. So dis nie onpartydig nie, maar volgens die algoritme. Die algoritme kan enige siening bevat en alle ander verwerp.

Goldy ·

Baie slimmer AI gaan die regerings irrelevant maak en ons gaan onsself kan regeer, dankie tog. Nou moet almal net hulself bemagtig met tegnologie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.