Nostalgieroete: Soeweniers uit die verlede

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Deur Koos van der Lith

Die geslag uit die jare veertig, dié wat met die “ooievaar” aangekom het, is besig om oud te word en daar bly slegs terugflitse oor om op te roep.

Reis saam op ʼn roete wat slegs in gedagtes bestaan.

Ons middelseun keer terug vanaf sy jaarlikse vakansieverlof en ons moet hom in Pretoria by die “Intercape”-bushalte gaan kry.

Lees met geduld en begrip, dit gaan ʼn tydjie neem.

Vanaf Marble Hall kry ons koers op die Molotopad. Swaar verkeer wat jou geduld en uitsprake erg beïnvloed, neem ons na Zambezilaan en so  beland ons in Voortrekkerweg. Sien later die bekende Wonderboom-skool. Wou altyd ons kinders daar laat skoolgaan. Daar vind glo die beste sportafrigting plaas en vergeet nie die akademie nie! So tussen al die taxi- en kombitoeters ry ons by HF Verwoerd-hospitaal verby. “Pappa, pas op”; “Pappa, nie so naby die trok nie!” Dis woorde wat nie na Jim Reeves se “ Moon River” klink nie! So ry ons aan tot in Hamilton- en later Troyestraat. Vir die soveelste keer moes Stephan hoor: “Kyk, Stephan, hier in Alharie nr. 66 het Pappa en Mamma gebly; hier het ek vir Francois met die stootwaentjie na die parkie geneem.” So ry ons aan tot in Paul Krugerstraat en sien die bekende Victoria Hotel. Dalk slegs bekend aan die studente en dienspligtiges van daardie tyd! Binne die stasieterrein word ons dadelik na die parkeergebied geneem en verseker van die beste diens. Die bus kom aan, Harold kom aangestap, die voortreflike diens jaag my R10 uit die sak, en daar vertrek ons terug huis toe.

Alles wat jy nou gelees het, is pure nostalgie. Dit hoort tot die verlede.

Die reis na Pretoria was in werklikheid ʼn nagmerrie. Daar bestaan nie meer ʼn Zambezilaan of HF Verwoerd-hospitaal nie. Sunnyside is nou ʼn woonbuurt vir almal uit Afrika en daar bestaan nie meer die parkie om met klein kindertjies  te gaan speel nie. Wasgoed hang voor die vensters van die woonstel waar ons gewoon het.

Ek dink terug aan die tye wanneer ons vir ʼn “blind date” na die Verpleegkollege toe is, of na die Onderwyskollege om te gaan sokkie. Dit hoort nou tot die verlede en die geboue en woonstelblokke is vervalle en verwaarloos. Dink maar terug aan die Assembly, daar het ons pyle gespeel tot toemaaktyd! Dan was daar die Zillerthal met sy Duitse musiek, en nog ʼn paar ander plekke wat ons liewer nou maar daar sal laat!

Mettertyd, asook met baie aangename herinneringe, het ons vrou gevat. Woonstel soek was dan deel van die leefwyse van jongmense van daardie tyd. Voor die troue was die Jeugtuiste of Harmoniehof deel van ons woonplek, ná die troue was almal op soek na plek by Drie-Ankerhof en moes ons intussen tevrede wees met Alharie 66 in Troyestraat, of enige ander bekostigbare woonstel.

Die jare het gekom en gegaan, kinders is gebore, politiek het begin belangrik word. Dink aan die stadsale waar tamaties gegooi was. Gedurende hierdie tyd het sake begin skeefloop. Sommige van ons was oortuig dat die gebruik van televisie vir ewig verbied moes word! Dink terug aan die goedkeuring van die eerste Maori wat aan sport sou kom deelneem.

Die uiteinde van skeefloop, was magsoorgawe. Sou ons terugkyk, moet daar gekyk word na die moord op dr. HF Verwoerd. Dit was beplan, dit was sekuur uitgevoer. Die begin van nuwe planne was aan die orde van die dag, en ook sekuur uitgevoer.

Die uiteinde is aan ons almal bekend.

Kommandeur Frik de Klerk met sy medevloot navolgers het besluit genoeg is genoeg, sport saam met Maori’s gaan die ding doen. Internasionale sportgeleenthede maak deure oop. Nooit mag ons weer sukkel om brandstof in die hande te kry nie. Stop grensbeheer. Kort en saaklik, ontban alle voorheen gevaarlike organisasies, bevry mnr. Mandela en versoek hom om ʼn nuwe regering daar te stel.

Dit het gebeur. Straatname verander. Standbeelde word afgebreek. Skole brand af. Hospitale het nie meer lakens of komberse nie. Teerpaaie raak slegter by die dag. Die Blou Bulle wen nie meer nie! Rugbyspelers moet kontrakte oorsee aangaan. Die lys kan aangaan, maar stop liewer hier, want baie geneeshere het ook reeds die land verlaat.

Die terugflitse uit die verlede dwing ons om weer saam te lag, saam te kuier, ongeag al die vreemde veranderinge wat plaasgevind het.

Kom ons benut nostalgie en leer ons kinders die waarde van die verlede.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Theuns ·

Antie wil Antie nie met Maroela praat nie? Ek is nou presies op die plek wat Antie van praat! Daar waar alles op ‘ n einde gekom het! Ek voel ek is nou heeltemal maroelaloos want ek probeer so hard om mooi stories te skryf en nie maroelaloos te word nie.As hulle nie met my wil praat nie sal Antie met my praat? Ek is lief vir Antie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.